BLOMKOOL VISGEBAK
- 1 medium grootte blomkool
- Groentespeserye
- 1 pakkie kaassous poeier van jou keuse
- 1 eier
- 3 preie (leeks), deeglik gewas en dun gekerf saam met die groen gedeeltes
- Aromat
- 1 teellepel fyn knoffel
- 15 ml botter
- 15 ml olyfolie
- 4 – 5 dik stokvis fillette
- Visspeserye
- sout en peper na smaak
- ¼ koppie gerasperde Cheddarkaas
- 3 eetlepels fyngekapte chives
Sny die blomkool in los blommetjies en stoom dit tot dit net begin gaar word. Geur dit liggies met groentespeserye en plaas in die bak van ‘n voedselverwerker. Gee dit ‘n paar polse met die verwerker om dit op te breek, maar nog genoeg tekstuur het. Plaas oor in ‘n mengbak en maak die pakkie kaassous aan met 200 ml kookwater. Laat dit effens afkoel en klits die eier daarby in. Meng die kaassous en eiermengsel deeglik met die blomkool.
Geur die gekerfde preie met ‘n bietjie aromat, meng met die knoffel en sorteer liggies in die botter en olie mengsel tot dit net begin sag word en strooi dit onder in ‘n oondbak.
Geur die vis liggies aan beide kante met die visspeserye, sout en peper en rangskik dit bo-op die preie in die oondbak.
Hou die fillette min of meer dieselfde dikte deur die dunner stertgedeelte onder die fillet in te vou. Skep die blomkool mengsel oor die vis en strooi die kaas bo-oor. Bak by 200ºC vir 20 tot 30 minute of totdat die vis deur gaar is.
Garneer met fyngekapte chives.
Resep geplaas deur Adam Cloete
Foto: Adam Cloete