BLITSIGE KOFFIE-KANEELROLLETJIES
Reën en kaneel is mos nou maar net pasmaats. Ek het hierdie kaneelrolletjies gister gemaak terwyl dit so lekker gereën het. Geen gis, rystyd of vreeslike knie nodig nie.
- 2 teelepels gesmelte botter, vir die pan
- Deeg:
- 2 koppies wit bruismeel
- 2 teelepels wit suiker
- ½ teelepel sout
- 3 eetlepels sagte botter
- ¾ koppie melk
- 1 eier
- Vulsel:
- 2 eetlepels gesmelte botter
- ½ koppie witsuiker
- ½ koppie bruinsuiker
- 1 eetlepel kaneel
- 2 eetlepels kitskoffie (druk fyn tussen 2 lepels)
- Glanslaag:
- 1 koppie versiersuiker
- 60 ml warm water
Voorverhit die oond tot 200ºC.
Smeer ‘n ronde tertbak (22 cm) of vierkantige pan (22 x 22 cm) met 2 teelepels gesmelte botter.
Meng die bruismeel, witsuiker en sout saam in ‘n groterige mengbak.
Vryf die sagte botter in die meelmengsel met die vingerpunte totdat al die botter ingewerk is.
Klits die melk en eier in ‘n aparte bak en voeg by die meelmengsel.
Roer met ‘n lepel of spatula totdat ‘n sagte deeg vorm.
Plaas die deeg op ‘n meelbestrooide oppervlak en rol deeg in ‘n ½ cm dikte vierkant.
Borsel die oppervlak van die deeg met 2 eetlepels gesmelte botter.
Meng witsuiker, bruinsuiker, kaneel en koffie in ‘n klein houer.
Sprinkel ‘n kwart van die kaneelsuiker mengsel in die voorbereide pan.
Sprinkel die res van die kaneelsuiker oor die deegvierkant.
Rol die deeg op om ‘n rol te vorm. Sny in 1.5 cm skywe en plaas rolletjies plat in die voorbereide pan.
Bak vir 20 – 25 minute.
Glanslaag:
Roer die water bietjie-bietjie by die versiersuiker totdat dit net nat is. Pasop vir te veel, anders is die mengsel te waterig.
Skep oor die warm kaneelrolletjies en bedien lou-warm.
Resep en foto: Bernadene Daniell Prinsloo












