BLITS-SOP (BLIKKIES-SOP OF ROOISOP)
Gemaak uit nood toe daar skielik onverwags kuiermense opdaag op ‘n bittere koue dag in Augustus 2009. Van daaraf het dit ‘n gereelde sop geword in ons huishouding.
Jy kan dit onder 30 minute maak en bedien.
- 500 g maalvleis
- 2 uie, in ringe of fyn gekap
- 2 blikkies groente of minestronesop, gemeng met 2 blikke water
- 2 pakkies minestrone soppoeier, gemeng met 1,5 liter water
- 2 blikkies tamatie- en uiesmoor
- 1 blikkie tamatiepasta
- 1 hoogvol eetlepel Bisto
- 10 ml Worcestershire-sous
- 2 pakkies 2 Minute Noodles (nie die speserye nie) fyn gebreek
- sout en peper
Braai uie en maalvleis tot gaar.
Voeg die blikkies sop en 2 blikkies water, soppoeier (gemeng met water) en tamatiesmoor by en kook vir 10 – 15 minute.
Meng tamatiepasta, Bisto en Worcestershire-sous met bietjie water tot ‘n loperige pasta en voeg by sop. Roer deur. Voeg laaste die noedels by. Kook vir nog 5 minute.
Geur met sout en peper.
Bedien met varsgebakte vetkoek.
Resep en foto: Lorraine Weitz Brand
Nota:
Ek sien hierdie (eie uitgedinkte) resep dwaal die gange rond op ander forums waar die oorspronkelike bron (ek) nie gewys word nie en afgemaak word as hulle resep. Ek is al te moeg om gedurig te verduidelik dit is my oorspronklike uitgedinkte resep. Maar mense, dit is lekker, vinng en maklik. Probeer dit gerus.