BILTONG EN KAASTERTJIES
Hierdie Biltong en Kaastertjies is heerlik, ek was verbaas en sal dit beslis weer maak. Moenie die biltong te fyn maak nie, maar maak seker dit is lekker dun gekerf. Volgende dag nog net so lekker, kan sommer net so koud ook geëet word.
- 115 g gerasperde Cheddar kaas, (geel en wit gemeng indien verkies)
- 75 g fyn gesnyde biltong
- 2 ekstra groot eiers
- 187.5 ml dik room
- 30 ml bruismeel aangemaak met bietjie melk
- bietjie paprika
- bietjie sout
- swartpeper na smaak
- 2 eetlepels gekapte sprietuie
- 1 eetlepel elk vars gekapte pietersielie en basieliekruid
Klits die eiers en room saam.
Voeg die kruie en geurmiddel by, klits die meelpasta by. Sodra goed geklits en glad voeg die kaas en biltong by, meng met ‘n lepel. Proe vir sout, pas aan indien nodig.
Skep in ‘n 6 gat gespuite muffin pan.
Bak teen 180ºC vir 20 tot 25 minute of tot gestol wanneer getoets word.
Haal uit die oond, laat staan so paar minute, maak los rondom en keer uit. Hulle is baie “broos”, haal versigtig uit.
Bedien saam met ‘n groen slaai as ‘n ligte maaltyd.
Nota:
Net so heerlik koud, as mens dit in die klein muffins pannetjies sou bak, sal dit heerlik wees vir kosblik of padkos.
Resep en foto: Rina Kleinhans