BESTE PAVLOVA BY VERRE
Ek het al meer Pavlovas gebak as wat ek kan tel. Maar ek kan eerlik sê hierdie is verreweg die BESTE metode wat my betref.
- 6 eierwitte
- 1 ¾ koppies strooisuiker
- *1 teelepel asyn
- 1 teelepel vanilla geursel
- 2 teelepels Maizena
- 1 eetlepel kookwater
Voorverhit die oond tot 110 ºC.
Plaas al die bestanddele in die bak van ‘n elektriese menger en klits dat die “biesies bewe” vir 10 – 15 minute tot dik en glansend.
Trek ‘n sirkel van 24 cm op ‘n vel bakpapier – ( trek sommer die rand van ‘n koekpan af)
Plaas die bakpapier op ‘n oondpan en stapel die mengsel in ‘n sirkel en maak die randte glad. (Maak ‘n effense holte in die middel vir jou room en vrugte)
Bak 1 ½ uur en skakel die oond af. Los die pavlova totdat die oond heeltemal afgekoel het (as jy dit uithaal as dit nog warm is, gaan die skielike temperatuur verskil dit laat kraak EN die binneste “marshmallow” kan heelwat insak )
- Vulsel :
- vars room, styf geklits
- vars aarbeipulp
- vars vrugte van jou keuse
- versiersuiker
Meng die styfgeklopte room met die arbeipulp. Skep in die holte van die pavlova.
Rangskik vars vrugte van jou keuse bo op die roommengsel na smaak. Ek het kiwivrugte en kersies gebruik.
Sif bietjie versiersuiker oor vir die mooigeid
Resep en foto: Erna Welgemoed Bruwer