BEETSLAAI MET EIERSOUS
Gister terwyl ons hier oor beet gesels het, het Rene Wessels vertel sy maak hare met eier, en ek moes uitvind hoe dit smaak. Nou ja, kan ek vir julle sê, dit is baie baie lekker, as mens iets wil hê tussen gewone beet met asyn en suiker en die soet-suur beet, is hierdie die antwoord. Dit is regtig maklik en heerlik, en Rene sê dit vries ook baie goed.
Ek het dit so bietjie aangepas, maar mens kan net die eerste 4 bestanddele gebruik dis net so lekker.
Resep gee ongeveer 5 van die heuning botteltjies.
- 1.2 liter gerasperde gaar beet
- 2 koppies suiker
- 1.5 koppies wit asyn
- 2 eiers, geklits
- Opsioneel:
- 1 groot ui, gerasper
- 5 ml “chinese five spice”
- sout na smaak
Kook beet in water met sout tot gaar.
Laat afkoel, skil en rasper op growwe kant van rasper.
Braai die uie in bietjie olie net tot sag.
Klits die eier, asyn en suiker saam, en voeg by die uie in die pot. Kook terwyl jy die heletyd roer op meduim hitte vir ongeveer 10 minute dat die eier gaar kan word. Nou het jy ‘n meduim dik sous.
Skep die gerasperde beet by die sous en kook net goed deur.
Bottel in warm voorbereide bottels en seël dadelik.
Heerlik!!!
Resep: Rene Wessels aangepas en getoets deur Rina Kleinhans
Foto: Rina Kleinhans
2de Foto: Gillian Vermeulen
Ek het vroeër die week my beet gaargemaak, maar daar was nie tyd vir slaai maak nie en toe bêre ek dit in die vrieskas. Het dit vorige aand uitgehaal en gister oggend geskil en gerasper. Ek het die beetslaai met eiersous gemaak, maar die “chinese five spice” vervang met twee teelepels kerrie masala en 1/2 teelepel sout. Ek het die resep x 4 aangemaak om al my beet te kon bottel. Dis regtig ‘n baie lekker resep.
Magriet Jordaan
Hierdie slaaisous is net heerlik op jong varsgekookte groenboontjies as warm of koue bykos/slaai, ek het altyd bietjie mostert bygesit.
Nog nooit met beet probeer behoort HEERLIK te wees.