BEET, LEMOEN EN VESELPERSKESLAAI
Hierdie slaai kan ek regtig aanbeveel, dit is heerlik met die effe suur van die lemoen, die soet van die mango en dan die roket en beet om dit mee af te rond.
Die hoeveelhede van die slaai gebruik mens maar na gelang van die hoeveelheid mense waarvoor mens die slaai maak. Ek het die volgende gebruik:
- Slaai:
- roket of slaaiblare, genoeg om die bodem van die bord te bedek
- 4 gaar bete, in blokke gesny
- 1 mango, skoon gemaak en in lang repe gesny
- 2 vars lemoene, waarvan die segmente los gemaak is van mekaar en al die vliesies om elke skyf afgetrek is, gebruik net die binnekant van elke skyf
- ¼ wit of pers ui, in baie dun repies gesny
- Ekstra:
- vars pietersielie, fyn gekap
- vars kruisement, fyn gekap
- vars dill, fyn gesny
- Slaaisous:
- 80 ml vars lemoensap
- 2 eetlepels fyn gerasperde lemoenskil (zest)
- 10 ml heuning, of na smaak
- sout en swart peper, na smaak
- 2 eetlepels olyfolie
Meng die bestanddele van die slaaisous saam, en voeg so bietjie van die gekapte, pietersielie, kruisement en dill in die slaaisous. Hou die res om vars oor die slaai te sprinkel.
Sit die skoon gemaakte lemoenskywe in ‘n klein bakkie en giet die slaaisous daaroor. Laat staan totdat jy die slaai gaan uitpak, ‘n uur of langer is die beste dat die smake kan trou.
Pak die slaai bestanddele mooi uit op ‘n opdien bord in die volgorde soos bo gegee, deur te begin met die roket. Haal die lemoenskyfies uit die slaaisous en pak in die lae. Dreineer die slaaisous deur ‘n siffie. Sprinkel die ekstra bestanddele oor die uitgepakte slaai en skep die slaaisous liggie oor.
Moenie die slaai meng nie.
Hou die res van die slaaisous in ‘n klein houertjie, indien die gaste nog slaaisous sou verkies. Hou die slaai in die yskas tot opdiening.
Geniet dit, dit is anders en heerlik.
Resep en foto: Rina Kleinhans