BEET, AVOKADO EN ERTJIESLAAI
Ek het hierdie pragtige slaai iewers raak gelees en besluit ek wil dit net maak omdat dit so mooi op die bord lyk, en dit eintlik ‘n heerlike slaai is saam met braaivleis indien jy klaar anders souse as bykos het, en nie regtig nog ‘n slaaisous oor die slaai ook wil sit nie. Ons het hom geniet en ek sal hom weer maak.
- 400 g rou beet (medium grote lyk die mooiste op die bord)
- 1 klein uitjie, baie dun gesny in die lengte
- 60 ml Sherry
- 30 ml appel asyn (of rooiwyn asyn)
- 3 eetlepels olyfolie
- 2 eetlepel soetrissie sous
- paar druppels Tabasco sous na smaak
- 1 teelepel suiker
- 2 medium avokado’s, geskil en in blokkies gesny (ryp maar ferm)
- 1 koppie baba ertjies, ontvries
- 2 koppies gemengde slaai blare en vars kruie bv kruisement, roket, baba spinasie en pietersielie
- sout en swart peper na smaak
Kook die beet in sout water tot net sag, kan nog so effens krakerig wees.
Sit in koue water, dreineer al die water en laat die beet koed word.
Skil die beet en sny in dun skyfies.
Plaas die beet- en uieskyfies in ‘n bak met ‘n deksel.
Meng die Sherry, asyn, olie, rissiesous, Tabasco, sout, peper en suiker saam in ‘n klein bakkie tot die suiker opgelos is.
Proe maar en pas aan na smaak.
Giet die slaaisous oor die beet en uie. Meng liggies deur en maak toe.
Meng elke nou en dan weer deur sodat die uie ook mooi rooi verkleur en al die beet van die slaaisous kry.
Hou eenkant tot net voor opdiening.
Vir opdiening:
Neem ‘n mooi bord, pak die die beetsyfies op die een helfte van die bord.
Neem die blare en kruie en pak op die ander helfte van die bord, effens oor die beet in die middel ook.
Pak die gesnyde avokadoblokkies op die blare in die middel van die bord en sprinkel bietjie sout oor die avokado.
Strooi die ertjies oor alles. Indien vekies kan daar ook lae gepak word.
Maal bietjie vars swartpeper oor en sit dadelik voor.
Resep aangepas en foto: Rina Kleinhans