Your Recipe Blog

BEESVLEISREPIES EN PASTAPOT

BEESVLEISREPIES EN PASTAPOT

Vir vandag deel ek my moer-by-mekaar-delux-beef-pasta met vars geplukte tuinkruie. Ek het betyds vir hom in my mooi blou LeCreuset pot aanmekaar geslaan sodat hy warm kan bly as die ESKOM aandete met beurtkrag kom. Spoel vir hom af met ‘n glas robynrooi merlot. Ek is seker hy gaan loop soos stroop.

  • 1 kg beesvleisrepies
  • olyfolie
  • ± 1 koppie koekmeel
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 250 ml gladde maaskaas
  • 2 uie, fyngekap
  • 5 huisies knoffel, fyngekap
  • vars origanum
  • 250 ml melk
  • 1 pakkie sampioenroomsop
  • 250 ml gekapte Portobello sampioene
  • 250 ml rooiwyn

Skink ‘n glas rooiwyn en bedink die ding.
Skud die repies vleis in ‘n plastieksak saam met die koekmeel, sout en grofgemaalde paper sodat die meel ‘n lagie om die repies vorm.
Voorverhit olyfolie in ‘n swaarboom kastrol of pan. Wanneer dit rookwarm is gooi ‘n eetlepel botter by vir dekadensie.
Soteer die sampioene, uie en knoffel en wanneer dit bleekblink raak van die lekkerte, braai die repies tot bruin, sit maar nog bietjie botter by as jy dit nodig sou ag, ons leef net eenmaal.
In daardie selfde kastrol voeg jy nou een glas rooiwyn, as jy alleen drink is dit ‘n teken van moontlike alkoholisme, so laat daai pot saam met jou drink!
Roer aanhoudend sodat niks aanbrand nie. Maak die soppoeier aan met een koppie kookwater en voeg dit by die vleismengsel.
Voeg 250 ml melk by.
Intussen kan jy eenkant pasta tot al dente kook.
As die soppoeier jou sous te dik maak, voeg nog melk of wyn by.
Daardie pot behoort nou te begin terugpraat van al die wyn met ‘n geprut en geure wat mens mal-honger maak.
Dis nou alles gaar. Dreineer die pasta en voeg dit by die repies vleismengsel. Is nou hier waar jy die stoof se hitte  3 toe draai en sommerso laat aanhou gesels terwyl jy tuin toe stap vir vars kruie. Pluk tog genoeg, dit gee oemf.
Haal die harde takkies uit sodat jy niemand dwars in die krop steek nie.
Voeg die kruie mildelik by en laat die spulletjie net so stadig-aan warm bly.
Sodra jou hartsmense by die huis kom, skink wyn asof dit jou eerste glas is. Moenie skinder oor wat die pot jou vertel het nie.
Kyk na die blink in die oë om jou, skep geil, in mooi bakkies met jou spog-eetgerei. Mens bere dit nie vir môre nie, ek kan jou waarborg môre is daar van dit weg of gebreek en dan is dit net jou eie skuld dat jy dit nie gebruik het nie en vir die nageslag probeer bêre het wat dit nie gaan waardeer nie.
Giet geil in jou kristalglas en leef. Hierdie etensuur kom nooit weer by jou en jou hart se punt verby nie.

Resep en foto: Dricus Bosman

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5