BEESSTERT EN SKENKELBREDIE
Ek het so twee dae lank rond gekyk en gelees oor oxtail resepte. Ek het toe ‘n resep opgemaak terwyl ek geshop het vir alles. Hou in gedagte dat ek nie juis hoeveelhede het vir bestanddele nie en dat ek op gevoel gewerk het.
- 1 kg beesstert
- 1 kg wildskenkel of enige skenkels
- 4 medium uie, gesny
- knoffel volgens smaak
- sout en peper
- 1 bossie seldery, gesny
- 1 bakkie sampioene, gesny
- 2 groen/geel/rooi soetrissies, gesny (enige van jou keuse)
- 5 lourierblare
- 30 ml goue stroop/heuning
- 1 eetlepel opgehoop met knoffel
- 50 ml Worcestersous en Balsamic asyn
- ‘n paar takkies roosmaryn, tiemie, koriander en origanum
- 1 sakkie tamatie pasta
- 1 pakkie beesstert soppoeier (oxtail)
- koekmeel vir die vleis
- speserye na smaak vir vleis
- genoeg bier van jou keuse om alles mooi toe te maak in die slow cooker (ek het Corona en Lion lager gebruik)
- groente en aartapels volgens eie keuse
Meng die soppoeier, droë speserye en genoeg meel saam in bakkie. Plaas in ‘n plastiek sakkie en sit al die vleis daarby, skud goed sodat al die vleissnitte bedek is met mengsel. Hou dit eenkant in sakkie.
In ‘n warm pan, braai die seldery en soetrissies in olie tot lekker krakerig. Skep uit in prutpot en sit aan op hoog.
Gebruik dieselfde pan, braai die uie en knoffel tot sag. Voeg die Balsamic en Worcestersous by en kook vir ‘n rukkie. Voeg stroop/heuning by en braai tot mooi gekaramaliseer. Skep uit in prutpot.
In dieselfde pan, braai die sampioene en kruie tot droog. Skep uit in prutpot.
In warm pan met genoeg olie, verbruin die vleis mooi en skep by res van bestanddele in die prutpot.
Voeg die laaste meel wat oorbly in jou pan en roer die bier en alles wat oorbly by. Wees versigtig dat klonte nie vorm nie. Sodra dit mooi kook, skep by die vleis in prutpot. Maak seker dat alles mooi bedek is.
Skakel die prutpot vir so 6 ure op laag aan, voeg die aartapels by vir so 3 ure.
Ek het toe die harde groente by gesit vir 2 ure en toe sagte groente vir die laaste uur.
Ek het baie tyd gehad aangesien dit lock down is! Ek het dit met samp bedien!
En dit was ONBESKRYFLIK lekker!! Selfs my landlord het ‘n derde keer kom skep!!!
Resep en foto: Johan Haarhoff