BANOFFEE ROOMYSTERT
My seuns wou al lankal hê dat ek vir hulle ‘n banoffee tert moet maak, maar met die hitte wil hulle ook ‘n poeding met roomys hê. Toe kombineer ek maar sommer die twee… Banoffee roomystert.
- Kors:
- 250 g koekies van jou keuse (Tennis beskuitjies/Marie beskuitjies ens)
- 100 g botter, gesmelt
- Vulsel:
- 1 blik karamel
- 2 – 3 piesangs, in skywe gesny
- 600 – 700 ml roomys (vanilla, salted caramel of karamel is perfek), effens sag
- Bolaag:
- 75 g donker sjokolade
- 50 ml room
Maak die beskuitjies fyn en meng met die gesmelte botter.
Voer ‘n 35 cm tertbak wat met Spray and Cook voor en onder gespuit is uit met die krummelmengsel.
Vries vir 1 uur.
Klits die karamel goed en smeer oor die bodem van die tert.
Pak die gesnyde piesangs bo-op.
Skep die roomys bo-oor en versprei eweredig.
Smelt die sjokolade in die mikrogolf vir 2 – 3 keer vir 15 sekonde “bursts”, en roer goed na elke 15 sekondes.
As die sjokolade heeltemal gesmelt is, roer die room by.
Maak strepe met die sjokolade-roommengsel bo-op die tert en trek ‘n sosatiestokkie deur om patrone te maak.
Vries totdat die roomys hard is.
Sny in skywe en bedien.
Nota:
Die tert kan vir minstens 2 – 3 maande in die vrieskas bly, bedek met cling wrap.
Resep en foto: Ilze Jacobs













