ANYSBESKUIT MET SUURDEEGMENGSEL
“Vandag het ek 5 anysbeskuitbrode gebak met ‘n halwe pakkie kitsgis. Dit was meer as drie kg meel. Meer akkurate besonderhede in resep.”
- Eerste mengsel:
- 5 koppies koekmeel
- ½ pakkie kitsgis (vanuit ‘n 10 g perspakkie)
- 1 eetlepel suiker
- louwater, hoeveelheid soos benodig om gladde beskuitbeslag te vorm
- Tweede mengsel:
- 300 g botter
- 3 koppies melk
- 3 koppies suiker
- 1¼ kg koekmeel, vir tweede mengsel
- 3 eiers, geklits
- 3 teelepels sout
- 100 ml anys
- gelyke dele ekstra suiker en melk, vir verf/bedekking van bolletjies
Eerste mengsel:
Plaas genoeg louwater in beker. Meng vyf koppies koekmeel, ½ pakkie kitsgis en een eetlepel suiker met louwater tot gladde deeg. Voeg die louwater geleidelik by tydens mengproses. Pasop vir te veel water op ‘n slag tydens byvoeging – anders moet jy weer begin of ekstra meel byvoeg indien beslag te slap is. Plaas beslag op ‘n warm plek.
Tweede mengsel:
Kook botter, drie koppies melk en drie koppies suiker op medium hitte tot opgelos en verkoel tot lou. Meng die eerste suurdeegmengsel hierby in.
Plaas van 1.5 kg koekmeel (hoeveelheid na jou keuse – die grootse deel van die tweede mengsel se meel ) in ‘n groot kom en voeg die afgekoelde bottermengsel by, asook drie geklitste eiers, drie teelepels sout en anys en meng dit met ‘n houtlepel tot beslag gebind is, plaas dit op ‘n warm plek en bedek dit met plastieksak. Wanneer vol gerys, knie res van die pak meel (die oorgeblewe 1.25 kg gedeelte) by, maak bolletjies (sien foto) en pak so vyf gemiddelde-grootte pannetjies vol.
Laat weer vol rys en bak by 180 °C vir een uur.
Verf bokant van bolletjies met gelyke dele suiker en melk, gekook in mikrogolf wanneer dit uit die oond kom. Laat die beskuit effe afkoel, haal uit pannetjies en trek bolletjies uitmekaar. Droog teen 100 °C.
Droogheidsgraad na gelang van persoonlike voorkeur. Loer maar so af en toe.
Resep en fotos: Heliette Smit