ANNATJIE SE HEEL STUK MAKATAANKONFYT
- Oornag:
- 3 kg makataan stukke
- 5 liter water
- 45 ml koeksoda
- Volgende dag:
- 5 liter water
- 3 kg suiker
- 20 ml suurlemoensap
- gekneusde gemmer
Sny die makataan in skywe en sny die binneste dele uit. Skil die buitenste dik stukke en prik goed van alle kante en sny in 50 mm blokke.
Oornag:
Gebruik die 5 liter water, voeg die koeksoda by en los dit op. Plaas dan die blokke in die oplossing en laat staan oornag.
Volgende dag:
Spoel die volgende oggend die stukke goed af en plaas in skoon water tot dit gekook gaan word.
Meng weer 5 liter water met die suiker en suurlemoensap en verhit die oplossing stadig tot kookpunt en kook dan vir nog 10 min.
Halveer die stroop en hou die ander helfte warm.
Plaas 1 kg stukke met verdrag in die kokende stroop.
Moenie laat dit ophou kook nie. Sit twee of drie stukke gekneusde gemmer by en kook tot die makataan stukke deurskynend is. Dit duur omtrent 1 ½ uur.
Bottel warm in gesteriliseerde flesse.
Herhaal dan met die volgende kg stukke en vul die sous aan as dit minder raak met die sous wat warm gehou word.
Sorg dat die stroop waarin jy kook, altyd kook.
(Ek het drie kg stukke gedoen met die sous)
Nota: Annatjie Kotze
Baie mooi gekom Gideon! Pragtig – en as jy die groen kleur wil behou, gooi jy so ‘n mespuntjie blou vitrioel in die kokende stroop voor jy die stukke begin insit. Dis te kry by Apteke. As ek nie maketaan kan kry nie, doen ek dit met gewone waatlemoen ook wat lekker dik skil het. Sny net die rooi van waatlemoen goed uit.
Bron: Annatjie Kotze
Foto een: Gideon Louw
Foto twee: Annatjie Heydenrych