ANDERSTE BOLOGNAISE SOUS
Dit is nou maar so dat elkeen het sy eie weergawe van bolognaise en glo dit is die beste.
Ek het al vele bolognaise resepte probeer en toe kom ek op hierdie een af so maand of wat terug. Dit was eintlik die olywe wat my gefassineer het. Ek het aanvanklik gedink ek was maar net honger en dit toe nou maar weer probeer. DIT IS ‘n WENNER!
Glad nie baie bestanddele nie en jy kan nie ophou eet nie…
- 50 ml botter
- 50 ml olyfolie
- 2 eetlepels Italiaanse gemengde kruie
- 4 lourierblare
- 2 – 3 rooi uie, in blokkies gesny
- 4 knoffelhuisies, gekap
- 500 g maalvleis (ek gebruik steak mince – nie lean nie)
- 1 koppie witwyn (ek gebruik paarl perle)
- 3 – 4 preie (leeks), in fyn ringe gesny
- 2 pakkies ontpitte swart/calamata olywe, in ringe gesny
- 1 eetlepel tamatie pasta (een pakkie)
- 1 eetlepel suiker
- 1 blik tamatie puree
- 1 blik gekapte tamatie
- 1 blokkie bief Knorox in 1 koppie warm water opgelos
- gemaalde growwe sout na smaak
- gemaalde swart peper na smaak
Smelt die botter in die olyfolie. Sit die lourierblare in.
Sodra die lourierblare begin ‘braai’ kom die gemengde Italiaanse kruie by. Braai vir so 20 sekondes.
Sit die uie en knoffel by. Braai tot sag en begin verkleur.
Voeg die maalvleis bietjie vir bietjie by en braai tot dit begin verkleur.
Voeg die preie en olywe by. Roer deurmekaar.
Giet die witwyn by en kook tot dit met die helfte verminder het.
Voeg die tamatie pasta en suiker by. Meng goed deur.
Skep die tamatie puree by en meng goed.
Sit die gekapte tamatie by roer deur. Spoel die blikkie tamatie puree uit met die opgeloste bief ekstrak.
Geur met sout en swart peper na smaak.
Stel die hitte af en prut vir ‘n uur en ‘n half. Roer elke half uur.
Proe met elke roer of daar nog sout en swart peper nodig is.
Nota:
Bedien op pasta met bechemel sous (opsioneel) en parmasan.
Hierdie bolognaise sous is perfek vir die maak van lasagne.
Heerlik op broodjies en in jaffles.
Goeie opsie vir ontbyt.
LASAGNE: Foto 2
Ek het vanaand lasagne gemaak. Ek het gister al die bolognaise gemaak sodat die geure lekker kan trou. Vanmiddag gou ‘n witsousie gemaak en die lae gepak.
WITSOUS GEMAAK MET KOEKMEEL
- 60 ml botter/margarien
- 60 ml koekmeel
- 5 ml sout
- 5ml wit peper
- 1000 ml melk (lou, nie yskoud)
Smelt margarien oor lae hitte en voeg koekmeel, sout en peper by. Roer tot glad en begin verbruin – so ‘n minuut ofvtwee.
Voeg melk geleidelik by terwyl jy aanhoudend roer.
Verhit tot kookpunt terwyl jy aanhoudend roer. Laat stadig prut vir 2 – 3 minute terwyl jy aanhoudend roer.
Skep gawe lae vir die lasagne.
Dit is ook heerlik bo-op die bolognaise as jy dit met pasta bedien.
Sous verdik effe soos dit afkoel.
Belangrik dat jou gepakte lasagne eers so 2 ure staan. Druk dan die kante effe in met ‘n lepel en sit dan jou kaas oor.
Na dit gebak is laat jy dit weet vir so ‘n uur of wat staan.
Resep en foto’s: Wayne Dugmore