ALTA SE WORTEL PLATTER
Hier is my weergawe van ‘n paar wortel uitdagings.
Almal kan as vingerhappies bedien word of die spek een kan as ‘n groentegereg gebruik word by ‘n ete.
Die wortelkoekies kan saam met vis en slaai bedien word ipv skyfies.
Neem soveel wortels as wat jy happies van wil maak.
Sny die wortels met ‘n mandolin, sommige in dun ringe vir die happie wat gediep braai word met die krummels om.
Vir die happies met die spek om, sny die wortels in lang repe en vir die koekies, rasper die wortels grof.
- GEKRUMMELDE WORTELRINGE (hoeveelhede eie keuse)
- wortelringe
- groente speserye
- oreganum
- mozzarella
- hamskywe
- koekmeel, gegeur na smaak
- geklitste eier
- broodkrummels
- olie vir vlak braai
Neem die wortelringe en mikrogolf vir ± 1 min, nie pap nie, met groente speserye en oreganum na smaak.
Sny Mozzarella en hamskywe diesefde grote as die wortelring,(kan ook uitfruk met ‘n koekiedrukker)
Neem twee wortelringe, sit ‘n stukkie Mozzarella kaas en ham tussen die twee ringe.
Rol in koekmeel, dan geklitste eier en dan in broodkrummels, braai in vlak olie tot mooi bruin en kaas gesmelt.
Pak op kombuispapier om te dreineer. Herhaal tot al die bestanddele gebruik is.
- WORTELSPEK HOPIES (hoeveelhede eie keuse)
- wortelstokkies
- groente speserye
- oreganum
- spek
- olie vir vlak braai
Neem die wortelstokkies en mikrogolf vir ± 1 min, nie pap nie, met groente speserye en oreganum na smaak.
Maak die wortelrepies in klein bondeltjies.
Draai elke bondeltjie toe in spek oor die lengte van die wortelrepies en gebak in vlak olie tot die spek lekker bros is.
Haal uit en pak op kombuispapier.
- WORTELKOEKIES
- 2 aartappels
- 2 wortels
- sout en peper na smaak
- ½ koppie Maizena
- olie vir diep braai
Neem die aartappels en wortels grof gerasper, meng goed en druk alle die vog uit. Meng met sout en peper na smaak.
Meng die Maizena by die wortelmengsel, dit lyk of dit baie los is.
Druk groot lepels vol in hande soos ‘n hopie en braai in diep warm olie tot bruin aan een kant, draai om en selfde aan ander kant, dreineer op kombuis papier. Moenie die koekies te gou omdraai nie.
Wanneer alles klaar gaar is, pak op ‘n mooi opdien bord en bedien saam met ‘n heerlike doopsous, of net soos verkies.
Resepte en foto: Alta Gunter Van Dyk