Your Recipe Blog

ALLES-IN-EEN ONTBYTBESKUIT

4 Ure
Cook: 35 - 40 Minute

ALLES-IN-EEN ONTBYTBESKUIT

Gebruik ‘n 35 x 40 cm pan indien dit kleiner is sal die beskuite net dikker uitkom.

  • 1 kg bruismeel
  • 10 ml bakpoeier
  • 10 ml sout
  • 500 ml bruinsuiker
  • 250 ml sonneblomsaad
  • 250 ml lynsaad
  • 125 ml sesamsaad
  • 100 g (250 ml) pekanneute, grof gekap
  • 250 ml hawermout
  • 125 ml droë klapper
  • 500 ml semelvlokkies (all bran flakes)
  • 2 ekstra groot eiers
  • 500 ml karringmelk
  • 500 ml Canola olie

Voorverhit die oond tot 180ºC.
Voer 2 standaard bakplate met kleefvrye bakpapier.
In ‘n baie groot mengbak, meng die bruismeel, bakpoeier, sout, bruinsuiker, sade, neute, hawermout, klapper en semelvlokkies met ‘n houtlepel.
In ‘n kleiner mengbak, klits die eiers, karringmelk en Canola olie.
Voeg dit by die droë bestanddele en meng goed.
Hier het jy ‘n bietjie “elbow grease” nodig, want die mengsel is swaar.
Roer totdat daar geen droë dele sigbaar is nie.
Verdeel die mengsel gelykop tussen die twee bakplate.
Gebruik nat hande om die mengsel eweredig te versprei tot in die hoeke, en druk dit netjies plat (‘n ander opsie is om nog ‘n laag kleefvrye bakpapier bo-op te sit, en ‘n koekroller te gebruik om dit eweredig te versprei deur te plat te rol – verwyder die boonste laag papier voor jy dit bak).

Bak die twee panne teen 180ºC vir 35 – 40 minute tot goudbruin.
Indien jou oond oneweredig bak, ruil die twee plate om teen halftyd.
Verwyder uit die oond en keer versigtig om op draadrakke om af te koel.
Gebruik ‘n skerp lang broodmes om die reghoeke op te sny – ek sny dit in drie rye in die lengte, en dan in 2 cm breë vingers.
Pak die vingers direk op die oond se draadrakke, effens uitmekaar, en droog uit vir 3 ure teen 90º C (as jy naby die see woon, sal jy dalk jou temperatuur moet aanpas tot 100ºC).
Skakel die oond af en maak die deur oop sodat die beskuit kan afkoel.
Wanneer dit kamertemperatuur is, pak dit in ‘n groot digsluitende plastiekhouer (ek gebruik ‘n vierkantige 9,5 liter Addis bak en vul dit ongeveer ¾ vol).
Die beskuit sal goed hou op die rak vir minstens 4 weke.

Foto’s en Nota: Wilma Batt
Het nie neute bygesit nie. Ek het platgedruk in 1 van daai beskuitpanne. Net genoeg daarvoor.

Category:

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page