ALLERLEKKERSTE PASTASOUS
Hierdie pastasous resep is een van die allerlekkerste souse ooit, mits jy van suur hou. As suur nie jou ding is nie, maak ‘n wye draai.
Die basiese resep kan jy altyd aanpas soos wat jy dit verkies of dalk jou sak pas, want dit kan ‘n duur besigheid word as daar net nog een bottel witwyn in die huis oor is, en dis ‘n Chablis of Sancerre.
- 1 blokkie groenteaftreksel
- ½ tot ¾ koppie goeie olyfolie
- 1½ koppies witwyn
- 1 koppie tamatiepuree (voeg bietjie water by indien nodig)
- 1 bakkie klein tamatietjies (heel)
- knoffel na smaak
- denne pitte of walnuts na smaak
- ½ suurlemoen met ‘n dun skil in dun plakkies gesny (Indien die skil dik is word die sous te bitter. As jy van bitter en bitter suur hou gebruik meer suurlemoen)
- ingelegde kappertjies na smaak
- olywe na smaak (groen of swart)
- 1 koppie vars grasuie, opgesny
- 1 koppie vars basilikum, opgesny
- 1 koppie vars pietersielie, opgesny
- vars tiemie na smaak
- murgpampoentjies (zucchini) of groen soetrissies, opgesny, opsioneel
Plaas al die bestanddele in ‘n pot (ek gebruik my wok met ‘n deksel) en laat dit stadig prut vir ten minste ‘n ½ uur.
Voeg ‘n bietjie suiker by vir ekstra woema indien nodig en ekstra sout as jy dit souter verkies.
Vier persone kan lekker hieraan eet op pasta.
Resep en foto: Solet Scheeres