ADAM SE GELAAIDE SOUTTERT
Hierdie is een van daardie veelsydige geregte waarin jy regtig kan gebruik net wat jy wil saam met die basiese nat mengsel. Dit is ook heerlik met hoender of tuna.
- ½ gekapte ui
- 200 g ontbytspek stukkies
- 6 Weense worsies (3 gerook en 3 rooies), in klein stukkies opgekap
- 150 g gekapte sampioene
- 1 bossie spinasie
- 1 groot pak aartappelskyfies (125 g) van jou keuse
- 1 pakkie sampioensoppoeier of van jou keuse
- 3 eiers
- 1 koppie melk
- 1 koppie water
- 1 klein pakkie (33 g) mini cheddar beskuitjies
- botter
Kook die spinasie in effens gesoute water tot dit net begin verwelk.
Dreineer en druk die water met jou hand verder uit tot dit so droog as moontlik is.
Sny dit op in kleiner stukkies en hou eenkant.
Braai die uie in ‘n bietjie olie tot dit net begin sag word.
Voeg die spek en sampioene by en braai verder tot die spek net gaar is.
Voeg die worsies by en roer deur die ander bestanddele.
Skep die mengsel oor in ‘n mengbak en meng die spinasie daarby in.
Klits die eiers in die melk en voeg by die mengsel.
Roer die soppoeier by die water en voeg by die mengsel.
Meng die fyngemaakte aartappelskyfies deur die mengsel.
Roer alles deeglik en skep dit in ‘n gesmeerde oondbak”
Maak die beskuitjies fyn en strooi oor die oppervlakte van die mengsel.
Stip die gereg met botter en bak by 180ºC vir ongeveer 35 minute of tot die vulsel gestol het en die oppervlakte effens verbruin het.
Bedien lou warm of by kamer temperatuur.
Resep geplaas deur Adam Cloete
Foto: Adam Cloete en Johan Steyn