Your Recipe Blog

AARBEI ROOMYS IN HEUNINGBAKKIES

Avatar photo
Recipe by

AARBEI ROOMYS IN HEUNINGBAKKIES

Uitdaging:
Aarbei roomys met tiemie en roosmaryn. Bedien in ʼn botter en heuning kors.
Om Food Lovers Recipes se 200 000 lede te vier het ek hierdie resep geskep! Baie dankie aan die admins en al die lede wat dit so ‘n heerlike groep maak.

  • Aarbeisous:
  • 400 g aarbeie (hou ʼn paar van die mooistes eenkant vir garnering)
  • ½ koppie heuning
  • 1 eetlepel suurlemoensap
  • knippie sout
  • 5 – 10 draaie swart peper
  • 3 takkies tiemie
  • 1 takkie roosmaryn (ongeveer 10 blaartjies)
  • Roomys:
  • 2 koppies room
  • 1 koppie volroom melk
  • ½ koppie heuning (meer as aarbeie nie baie soet is nie)
  • ¼ teelepel sout
  • 1 vanielje peul of 1 teelepel vanielje ekstrak
  • 2 druppels amandel geursel
  • paar druppels rooi voedselkleursel
  • Heuning en botter bakkies:
  • ½ koppie heuning
  • ½ koppie botter
  • 1 koppie hawermeel
  • 1 – 2 eetlepels koekmeel
  • 2 – 3 eetlepels water
  • knippie sout
  • knippie kaneel
  • knippie neutmuskaat

Aarbeisous
Sny die aarbeie in blokkies so 1 cm x 1 cm. Rasper die swartpeper oor, giet die suurlemoensap en heuning by en ʼn knippie sout. Laat staan oornag om die geure te laat ontwikkel.
Sit aarbeimengsel met tiemie en roosmaryn in kastrol en bring tot kookpunt. Verlaag hitte en laat stadig prut totdat mengsel verdik en net so min of meer die helfte oor is.
Haal die kruie uit, verpulp en vryf deur sif. Sit in yskas om koud te word.

Roomys

Bring melk, room, heuning en knippie sout tot kookpunt. Sit vanieljepeul in melkmengsel as jy een het. Laat prut vir ʼn halfuur – mengsel moet effens minder / dikker word en die melk moet gaar proe. Haal van stoof af en laat effens afkoel. Voeg vanielje ekstrak (as jy nie peul gebruik nie) en amandel by (wees versigtig – letterlik twee of drie druppels).
Laat die mengsel in yskas afkoel.
Meng die aarbeistroop in die melkmengsel en klits goed. Omdat aarbeie verskil – sommige soeter as ander en meer geur, moet jy maar ʼn bietjie proe en die heuning meer maak of minder aarbei stroop ingooi.
As die kleur nie mooi pienk is nie, gooi so een of twee druppels rooi voedselkleursel in.
Sit die mengsel in ʼn roomysmaker of skep in ʼn bak en sit in yskas. As jy nie ʼn roomysmaker gebruik nie, klits die mengsel so omtrent elke halfuur totdat dit styf is. Hierdie geklitsery help om die tekstuur van die roomys glad te hou. Ek het so vyf aarbeie in blokkies gesny en so vars in die roomys gegooi net voordat dit finaal hard geword het.

Hawermeel, heuning en botter bakkies:

Smelt die botter en heuning saam, roer hawermeel, kaneel en neutmuskaat in en meng goed deur en laat gaar word. Voeg 1 eetlepel meel en een eetlepel water by en knie die mengsel om ʼn deeg te vorm – as die bestanddele nie vassit nie – voeg nog meel en water by.
Druk vas in kolwyntjie pannetjie en bak teen 180° vir 8 tot 10 minute tot goudbruin.
Laat effens afkoel.
Maak ʼn bord mooi met blomme, takkies tiemie ens en sit die louwarm bakkies op. Skep roomys op. As jy bietjie aarbeisous oorgehou het – kan jy dit ook gebruik as jy opdien.
Maak vir jouself ʼn koppie tee, of gooi ʼn dop in. Sit jou voete op iets … vat ʼn blaaskans – want jy gaan nou-nou die kombuis opruim!

Resep en foto: Tosca de Villiers

One Review

  1. Frikkie Jones

    Beslis nie n resep vir n diabeet nie, maar lekker…

    Ek is mal oor die tiemie, peper en roosmaryn in die resep. Dit gee net daai iets ekstra wat nie in algemene resepte voorkom nie.

    Beslis nie n resep vir n beginner nie, maar vir die gesoute kombuiskoningin sal hierdie resep n “go to” wees.

    Ek hou van die hawermout in die bakkie, dit sus die skuldgevoel met die baie heuning in die resep…
    N goeie resep.

    Star

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5