6 BESTANDDELE VRUGTEKOEK
Ek moes inderhaas vir ‘n tannie vrugtekoek bak. Het die 3 Bestanddele koek probeer met lemoensap en gemengde speserye, kaneel en koeksoda by gevoeg. Seker dan nou 6 bestanddele koek. Dit lyk baie mooi en ek sou graag wou proe of dit net so lekker smaak.
- 500 ml bruismeel
- 5 ml koeksoda
- 10 ml gemengde speserye
- 5 ml kaneel
- 700 ml lemoensap
- 1 kg vrugtekoekmengsel (Ek kon nie kry nie en het sommer die bakers mix gebruik)
Week vrugte oornag in die lemoensap.
Voorverhit oond tot 150°C.
Voer pan uit met 2 lae bakpapier en spuit met kleefwerende kossproei.
Bind dubbellaag koerantpapier om pan.
Sif bruismeel, koeksoda, gemengde speserye en kaneel saam.
Roer dit by jou vrugtemengsel in tot goed gemeng.
Skep in pan en bak vir 2 ure. Toets en indien nodig bak nog so 20 minute.
Verwyder uit oond en giet bietjie suikerstroop oor. Jy kan natuurlik eerder brandewyn of Old Brown sjerrie oor giet indien jy die koek wil lank hou of indien jy dit, soos ek as ek vir ons huis bak, verkies.
Sodra koek heeltemal koud is, verwyder uit pan.
Draai toe in bakpapier en foelie. Bêre in yskas.
- Suikerstroop:
- 125 ml water
- 125 ml witsuiker
Los suiker in water op oor lae hitte.
Kook baie stadig vir so 8 minute.
Laat koud word voor jy daarvan oor die koek giet.
Resep en foto: Elaine Steyn