4 LAAG LEMOENROOMKOEK
- Beslag:
- 400 ml koekmeel
- 50 ml mielieblom (Maizena)
- 15 ml bakpoeier
- 3 ml sout
- 5 ekstra groot eiers geskei teen kamertemperatuur
- 350 ml witsuiker
- 100 ml vars lemoensap
- fyn gerasperde skil van 1 groot lemoen
- 125 ml olie
- 100 ml kookwater
- 2 ml kremetart
- Vulsel:
- 50 ml koekmeel
- 50 ml mielieblom
- 25 ml vlapoeier
- 1 ml sout
- 200 ml wit suiker
- 500 ml vars lemoensap
- fyn gerasperde skil van 1 groot lemoen
- 2 ekstra groot eiers
- 250 ml vars room verkoel
Voorverhit oond tot 190ºC en voer 2 ronde koekpanne van 23 cm uit met bakpapier en spuit met kleefwerende sproei. Sif die eerste vier bestanddele vir die beslag 2 maal saam, op ‘n vel waspapier en plaas eenkant.
Klits die eiergele baie goed tot lig en voeg die suiker lepelsgewys by en klits baie deeglik na elke byvoeging tot lig en romerig.
Voeg die lemoensap en skil by die eiermengsel en klits deur.
Meng die kookwater en olie en klits dit ook geleidelik by die eiermengsel.
Sif die droë bestanddele oor die eiermengsel en vou dit in met ‘n lepel.
Klits die eierwitte in ‘n aparte skoon droë bak tot sagte punte vorm, voeg die kremetart by die stywe eierwitte, en meng deur.
Vou die beslag by die eierwitte in en verdeel die beslag tussen die 2 koekpanne.
Maak ‘n effense holte in die middel van die deeg met ‘n lepel en plaas die panne in die oond.
Stel dadelik die oond se temperatuur laer tot 180ºC en bak sowat 40 – 45 minute tot gaar.
Verwyder die panne uit die oond, laat die koeke effens afkoel in die panne.
Keer die koeke uit, bedek dit met ‘n dun doek en laat dit heeltemal afkoel.
Berei intussen die vulsel voor.
Sif die droë bestanddele saam met die suiker en hou eenkant. Verhit 100 ml van die lemoensap en die skil in ‘n klein kastrolletjie en kook dit vinnig vir ongeveer 3 minute.
Verwyder die sous van die stoofplaat en giet dit deur ‘n siffie om die skil te verwyder.
Voeg die warm sap by die oorblywende 400 ml lemoensap en vul aan tot 500 ml.
Klits die eiers tot skuimerig. Klits die droë bestanddele by die eiers totdat dit lyk soos geklopte room.
Verhit die lemoensap weer tot kookpunt en voeg die helfte daarvan by die eiermengsel en klits goed.
Voeg die eiermengsel by die res van die lemoensap in die kastrol en prut oor lae hitte totdat die mengsel dik en gaar is, terwyl gedurig geroer word.
Skep die vulsel uit in ‘n mengbak en bedek die oppervlak met kleefplastiek om te voorkom dat ‘n velletjie vorm.
Laat staan die vulsel eenkant tot heeltemal afgekoel.
Klits die room tot net styf en klits die afgekoelde vlamengsel lepelsgewys by die room, totdat dit goed gemeng is. Verkoel totdat die vulsel stewig is.
Sny die koeke middeldeur sodat jy 4 lae het en versier elke lag koek met vlamengsel tussen in en laaste ‘n vlamengsel laag heel bo-op.
Resep en foto: Amanda Austen