3 LAAG LEMOENKOEK
My toevoeging tot die sitrusuitdaging.
- Koek:
- 500 ml witsuiker
- 750 ml koekmeel
- 20 ml bakpoeier
- knippie sout
- 200 g bakmargarien
- 125 ml vars uitgedrukte lemoensap
- 250 ml melk
- 3 groot eiers
- 5 ml fyn gerasperde lemoenskil
- Versiersel:
- 1 kg versiersuiker
- ± 120 ml lemoensap
- 200 g bakmargarien
Koek:
Klits die margarien en suiker tot lig en romerig.
Voeg die eiers een vir een by en klits goed na elke byvoeging.
Sif die meel, sout en bakpoeier saam.
Meng die droë bestanddele om die beurt met die lemoensap en melk by die bottermengsel.
Voeg die lemoenskil by en meng tot alles net gemeng is. Moenie oormeng nie.
Spuit en voer 3 koekpanne van 18 cm deursnee met kleefwerende kossproei en bakpapier.
Verdeel die deeg gelyk op tussen die panne en bak vir sowat 30 – 35 minute tot gaar.
Laat die koek afkoel vir 15 minute in panne. Keer die koek uit op ‘n draadrak en laat dit heeltemal koud word.
Versiersel:
Klop die margarien tot lig en romerig.
Sif die versiersuiker by die margarien en voeg bietjie vir bietjie lemoensap by, terwyl die mengsel stadig geklits word.
Wees versigtig vir te veel vloeistof.
Klits die versiersel vir sowat 5 minute tot lig en romerig en versier die koek soos verkies.
Resep en fotos: Elaine Steyn