Your Recipe Blog

3-EIER OMELET

| Servings: 1 serving

3-EIER OMELET

Gebruik 3 eiers vir elke persoon en 1 eetlepel vloeistof (water of melk) vir elke eier.

  • 3 eiers, geskei
  • 3 eetlepels melk of water
  • knippie sout
  • botter of vet vir die pan

Klits die wit van die eiers styf met ‘n klitser en sonder om die eierklitser te was, klits die geel van die eiers tot liggeel van kleur in ‘n aparte mengbak.
Voeg die vloeistof en sout na smaak by die eiergeel.
Vou die styfgeklopte eierwit by die eiergeelmengsel in.
Verhit ’n pan, net groot genoeg sodat die eier nie te dun uitsprei nie, op die stoof oor matige hitte en smeer die boom en kante van die pan met botter of vet.
Giet die eiermengsel in die pan en bak die omelet tot dit opgepof en ligbruin van onder is.
Laat die pan ’n paar minute lank in ‘n matige warm oond staan tot die omelet bo-op droog is. (As die omelet te lank bak, sal dit krimp en taai word.)
Maak ‘n holte in die middel van die omelet met die hefkant van ‘n mes en maak dit los van die kante van die pan met die mes.
Gebruik ‘n slaplem-mes of eierspaan en vou die een helfde van die omelet oor die ander helfde.
Laat die omelet versigtig op ‘n warm bord afgly en bedien onmiddellik met ‘n vulsel van eie keuse.

Variasies vir vulsels:
Kaas – Strooi gerasperde kaas met ‘n skerp geur oor die omelet net voordat dit toegevou word of terwyl dit gaargemaak word.
Biltong – Strooi gerasperde biltong oor net voordat dit toegevou word.
Uie – Voeg 1 eetlepel fyngekapte ui en 1 teelepel fyngekapte pietersielie by voordat die omelet-mengsel in die pan gegooi word.
Ham – Enige soort koue vleis of pluimvee. Maal die gaar vleis fyn en verhit dit of braai effens bruin in warm vet en strooi dit oor die middel van die omelet terwyl dit gaar word.
Groente – Meng enige gaar groente met witsous en gebruik as vulsel vir die omelet.
Vis – Maak enige gaar vis fyn, voeg sout en peper by na smaak en maak dit klam met room. Verwarm die vis en plaas dit op die omelet voordat dit toegevou word.
Pietersielie – Braai 1 tot 3 teelepels gekapte pietersielie in ‘n bietjie botter en voeg dit by die eiermengsel.

Resep en foto: Abri Van Vuuren

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page