HOENDERPASTEITJIES MET TUISGEMAAKTE SKILFERKORS
- 2 kg hoender borsies met been en vel
(ek gebruik dit, maar jul kan ander hoender ook gebruik) - 1 pakkie hoender room soppoeier
Kook hoender gaar en sag in ‘n bietjie water en sout, een hoender blokkie en hoender speserye.
Sodra die vleis gaar is, skep onmiddelik uit die sous, laat afkoel en snipper die vleis maar verwyder die velle.
Skep gesnipperde hoender terug in die sous en verdik met soppoeier aangemaak met bietjie water.
Kook goed deur dat sop gaar word.
Nota:
Jy kan ook sampioen soppoeier gebruik of die 2 meng.
Pasop om die hoender met te veel sout te kook, aangesien die soppoeier en die hoender blokkie sout bevat.
Ek gebruik nie die hoendervelle in die pasteie nie, maar kook wel die hoender daarmee.
- Skilferkors deeg:
- 900 g koekmeel
- 400 ml water, yskoud
- 15 ml asyn
- 3 eiergele (ek hou die eiers ook in die yskas, sodat dit lekker koud is)
- 500 g margarien, koud
- 250 g margarien, koud
Meng die meel en die margarien. Ek rasper die koue (500 g) margarien bo-op die meel en vryf dit met die vingers in tot dit soos growwe mieliemeel lyk. As ek lui is, gooi ek dit in die menger en laat dit die werk doen.
Meng die water, eiergele en asyn en voeg by die meel mengsel. Knie tot dit van jou hande loskom.
Nota:
Ek hou gewoonlik ‘n bak yswater langs my en as ek voel dat my hande te warm word, druk ek dit daarin.
As dit klaar geknie is, sit in ‘n plastiek sak en sit in die vrieskas vir ‘n halfuur.
Nou vir die smeer proses:
Strooi klein bietjie meel op die werksoppervlak en rol die deeg ongeveer tot 1 cm dik uit.
Gebruik nou die 250 g margarien en rasper die helfte daarvan op ⅔ van die deeg.
Hou die boonstste ⅓ oop.
Vou nou die boonste gedeelte tot in die helfte van die deeg en dan die onderste helfte bo-oor die boonste gedeelte. Rol deeg effe plat en draai dit, sodat die naat wat oop was, teen die kant is.
Rasper die orige margarien weer op ⅔ van die deeg en herhaal die vou proses.
Rol effe platter en laat die deeg oornag rus in die yskas of ongeveer ‘n uur en ‘n half in die vrieskas.
Daarna is deeg reg om gebruik te word.
Druk sirkels uit, plaas vulsel op die een sirkel in die middel en smeer die kant met geklitste eier reg om, plaas die volgende sirkel bo-op en seël die kante. Smeer die bokant weer met geklitste eier.
Pak op gespuite bakplaat en bak teen 180 ºC vir ongeveer 20 min of tot mooi bruin en gaar.
Variasie op Hoenderpastei:
Ek gebruik die hoendervulsel en voeg gerasperde kaas by en bak soos gewoon weg of ek maak ‘n hoender mayonnaise vulsel aan en bak dit daarmee.
Foto en resep: Tracey van Zyl












