Your Recipe Blog

Interesting Stories

 ‘N KYKIE NA NOORWEë SE NASIONALE GEREG – FARIKAL

No Comments

In al die lande wat aan die noordsee grens, is geregte met skaapvleis en groente baie gewild en die spesifieke een wat in Noorweë die gewildste is, Farikal, wat lamsvleis en kool as bestanddele het, het sy oorsprong in Duitsland, alreeds vanaf die die 18de eeu.   Van daar het dit noordwaarts versprei na Denemarke en verskyn dan ook later in die 19de eeu in Noorweë se resepteboeke waarna dit vroeg in die begin van die 20ste eeu, deel word van die noorweegse nasionale dieet.

Die naam, Farikal, wat letterlik lam in kool, beteken, het sy oorsprong in Denemarke en pogings is aangewend om die naam te verander, onder andere na, Lam-i-kal, om enige verbintenis met die Deense gereg te probeer verbreek.   Dit was egter nie geslaagd nie en Farikal het dit gebly.   Maar ten spyte van sy oorsprong is die gereg so geliefd in Noorweë aangesien die bestanddele Noorweë so eg verteenwoordig.   Lam, uit die berge met hul ongerepte natuur, vars kool wat dwarsdeur die somer gegroei word en vars ge-oeste aartappels, wat saam met dit bedien word.

Oorspronklik was Farikal ‘n weeksdag gereg, maar later van tyd, toe kooktyd vir die algemene huishoud al skaarser geword het, het dit ‘n Sondag gereg geword, of ‘n spesiale gereg vir gaste.   Die gereg het dan ook sy eie nasionale dag in Noorweë wat die Farikalen festdag genoem word en elke jaar op die laaste donderdag van September voorkom.   Dit is na die skape en lammers, wat in groot troppe in die berge wei, gaan haal is en elke eienaar sy eie diere uitgekeer het en na hul onderskeie krale geneem is.  Hierdie skaaphalery is ‘n hele fees op sy eie wat afgesluit word met die slag van die lammers vir hierdie eenvoudige maar so spesiale gereg.

FARIKAL (NOORWEEGSE LAM EN KOOL BREDIE) 6 porsies

  • 2 kg lamsvleis in groterige stukke gesny (nek, skouer of skenkel)
  • 2 kg kool in groot stukke gesny
  • 5 teelepels swart peperkorrels
  • 3 teelepels sout
  • 1 ¾ koppies water
  • ½ koppie meel

Meng die vleis en die meel in ‘n mengbak sodat al die vleis behoorlik bedek is.  Die meel sal help om die sous effens te verdik wanneer dit kook.
Giet die water in ‘n groot kastrol en pak ‘n laag van die vleis wat met die meel bedek is op die bodem van die kastrol.   Volg dit op met ‘n laag kool en voeg ‘n paar van die peperkorrels asook sout daarby.   Herhaal die proses totdat al die bestanddele opgebruik is en eindig met ‘n laag kool.   Die volume behoort ongeveer 1 deel vleis tot 4 dele kool, te wees
Bedek die kastrol met ‘n deksel en bring tot kooppunt.   Stel die hitte op laag en kook stadig tot die vleis sag genoeg is om van die bene af te kom.   Ongeveer 2 uur lank.   Die kool bevat baie water wat gedurende die kookprosis vrygelaat word, so moenie toegee aan die versoeking om meer water gedurende die kookproses by te voeg nie.
Die gereg word warm bedien saam met vars gekookte aartappels en ‘n lekker homp botter daarby.

Resep geplaas deur Adam Cloete
Foto: Ilze Jacobs – Ek het in die week skaapnek tjops gekoop in NZ…nie n algemene snit hier nie, so as ek dit sien koop ek dit dadelik. Ek soek toe op die blog vir n lekker effense anderse resep-en kom toe op hierdie een af. Sal dit definitief aanbeveel…eenvoudig maar lekker, en heerlik verby!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page