SALSA DI POMODORO
Saam met enige pasta van jou keuse.
- 1 blik heel tamaties (koop net ‘n goeie maak, die by bekende vrugte- en groentehandelaar)
- 1 blikkie tamatiepasta (125 g)
- handvol vars basillie
- 1 teelepel Italian Herbs, gedroog
- 1 ui
- 1 groterige knoffelhuisie (jy kan minder ook gebruik as jy wil)
- bietjie olie
- sout en peper
Braai die uie en knoffel saam in olie.
Voeg blikkies tamaties en tamatiepasta by.
Sny/breek basilliekruid in klein stukkies en voeg by.
Voeg Italian Herbs, sout en peper by.
Moenie water bygooi nie. Die tamaties het genoeg vloeistof.
Kook vir so ‘n halfuur op lae hitte. (Ek is gewoonlik haastig, 10 – 15 min werk vir my net so goed!)
Ek druk net voor opdiening die hele gedoente sommer met my “masher” fyn. Ek hou nogal daarvan as dit nie puree-fyn is nie. Bedien warm met pasta. (Die sous is genoeg vir 1 pak pasta)
Strooi vars gerasperde pecorino/parmesan of kaas van jou keuse oor. Lekker eet!
Iets om te onthou:
Ek gebruik dieselfde sous as ek spaghetti bolognaise/lasagna maak. Ek braai eers die maalvleis met ui/knoffel tot gaar en voeg dan die sous by.
Dit is baie gewild in ons huis en die getroude seuns maak dit net so graag gaar in hulle huishoudings.
Dit vries ook baie lekker. Ek vries dit in 500 g bakkies en op Maandag-aande as ek uitgeput en ingeduik is, kook ek net pasta en voeg die sous wat ek vinnig warm maak, daarby.
Elke keer ‘n wenner. Ideaal vir onverwagte gaste.
Foto en resep: Lorraine Weitz Brand

