MILO SJOKOLADEKOEK
Dis die enigste resep vir ‘n milokoek wat ek gebruik. Dit werk vir my en my kliënte is mal daaroor.
- Beslag:
- 125 g botter
- 60 ml strooisuiker
- 195 g koekmeel
- 12½ ml bakpoeier
- 150 g milopoeier
- 3 eiers
- 125 ml karringmelk
- Kondensmelk versiersel:
- 150 g botter
- 350 g versiersuiker
- 160 ml kondensmelk
- Vir die sjokolade ganache:
- 300 ml room
- 400 g donkersjokolade
- 125 ml milopoeier
Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ‘n 20 cm koekpan met kunsbotter (of spuit) en voer dit met bakpapier uit.
Verroom die botter en suiker saam tot glad en romerig. Voeg die eiers een-vir-een by en klits goed na elke byvoeging.
Sif die meel, bakpoeier en milo saam en voeg bietjie-vir- bietjie by die bottermengsel, terwyl op stadige spoed geklits word.
Klits nou die karringmelk in.
Skep die beslag in 2 x 20 cm koekpanne en bak vir 30 min of in een pan 40 – 45 minute of tot toetspen skoon uit middel van koek kom.
Laat koek vir 10 minute afkoel en keer dan uit. Laat heeltemal op ‘n draadrakkie afkoel.
Kondensmelk versiersel
Plaas botter in ‘n mengbak en klits vinnig tot lig en romerig – voeg versiersuiker en kondensmelk by en klits tot goed gemeng.
Sny die koek in drie gelyke dele, en voeg die koeklae aanmekaar met die versiersel.
Sjokolade ganache
Smelt die room, sjokolade en milo in ‘n kastrol op die stoof of in ‘n mikrogolfvaste bak in die mikrogolf (die milo is geneig om klontjies te maak; so die voorstel is om dit eers in die warm room op te los voordat die sjokolade bygevoeg word). Laat die mengsel goed afkoel totdat dit maklik kan smeer en bedek die hele koek daarmee (indien jy haastig is, kan jy die ganache in die yskas sit om af te koel – soos dit kouer word, so word dit stywer en kan dit makliker smeer). Moenie wag tot dit te koud is nie, want dan smeer dit weer baie moeilik.
Foto: Tertius Anja de Jager
Resep: Leandra van der Westhuizen













