PIESANG KARAMELPOEDING
Foto: Rina Kleinhans
Ek het die poeding probeer in ‘n muffin pan maak, vir aparte porsies. Dit werk regtig wonderlik, probeer dit gerus. Ek het wel die suiker in die poeding en in die stroop minder gemaak, want dit is regtig ‘n baie soet poeding maar hemels. Ek het twee piesangs gebruik en net ½ koppie melk.
Moenie oorskiet verwag nie; die karamelsmaak is hemels.
- 1 koppie koekmeel
- 1 knippie sout
- ½ koppie strooisuiker
- 3 teelepels bakpoeier
- 1 ryp piesang, fyngedruk, of 6 dadels, fyngekap
- 1 koppie melk
- ¹/³ koppie botter, gesmelt
- 1 eier, geklits
- 1 teelepel vanilla geursel
- Bolaag:
- ¾ koppie sagte bruinsuiker
- 3 eetlepels gouestroop
- 1 koppie kookwater
- Voorverhit die oond tot 180 ºC.
- Sif die meel, sout, suiker en bakpoeier saam in ’n mengbak.
- Meng die piesang, melk, botter, eier en vanilla saam en voeg by die meelmengsel, klits dit goed.
- Skep die deeg in ’n oondvaste bak (ongeveer 2 liter groot).
- Maak die bolaag.
- Meng die bruinsuiker, gouestroop en kookwater saam in ’n klein kastrolletjie en laat dit kook.
- Giet dit versigtig oor die piesangkaramelpoeding oor die agterkant van ‘n groot lepel om te verhoed dat dit gate in die deeg maak, maar bo-op bly en bak dit vir 30-40 minute.
- Nota: Indien jy dit in ‘n oondbak maak, sal die sous onder die poeding wees, op my foto is dit bo-op omdat ek die muffin pan moes omkeer, vir my werk dit perfek.


