Your Recipe Blog

SOETSUURDEEGBROOD MET AARTAPPELSUURDEEG

SOETSUURDEEGBROOD MET AARTAPPELSUURDEEG

Hier is die resep, vir die persone wat dit soek. Wintertyd suur ek 7 uur saans in. Begin ‘n halfuur voor die tyd om die kookwater af te koel. Lewer 2 groot brode.

  • 2 aartappels, geskil en halveer
  • 1,7 liter kookwater, afgekoel tot louwarm
  • 5 ml suiker
  • 15 ml sout
  • 680 g (± 4 koppies) bruinbroodmeel
  • 1 koppie kokende water
  • 1 koppie bruinbroodmeel
  • 2,75 kg witbroodmeel of koekmeel
  • 15 ml sout
  • ekstra louwarm water

Plaas die aartappels in ‘n groot emalje bak of ‘n groot vlekvryestaal kastrol (ek gebruik ‘n kastrol).
Voeg die 1.7 liter louwarm water (as jy jou vinger daarin kan hou sonder dat dit brand is dit reg), sout en suiker by.
Sprinkel die bruinboodmeel egalig oor die water, maak ‘n gaatjie in die middel met ‘n mes.
Bedek die bak met kleefplastiek of plaas die kastrol se deksel op en plaas die kastrol binne in ‘n knieskottel, sodat dit mooi pas en plaas ‘n plastiek bo-oor (gebruik skoon swartsak).

Ek doen die volgende:
Plaas ‘n groot kontinentale kussing op die spaarkamer se bed.
Maak ‘n warmwatersak halfvol kookwater en plaas dit op die kussing.
Neem ‘n groot koelsak wat materiaal aan buitekant en blink foelie aan binnekant het en plaas die skottel met kastrol binne in die sak, op die warmwatersak.
Vou die stapel toe met 1 groot kombers wat 2 x dubbel gevou is, gevolg met nog ‘n kombers.
Vroeg die volgende oggend, maak die komberse versigtig oop en loer of die suurdeeg al skuim en borrels maak.
Indien wel, neem die skottel kombuis toe, voeg die koppie kookwater by die suurdeeg, klits aanhoudend met ‘n vurk terwyl jy die koppie bruin broodmeel ook byvoeg.
Klits deeglik deur en strooi nog ‘n lagie bruin broodmeel oor, maak ‘n gaaitjie in die middel en plaas die deksel op of bedek met kleef plastiek en plaas weer die kastrol in die skottel.
Maak weer die kastrol toe met die komberse, sorg dat die skottel regop en gelyk staan.
Na ‘n uur behoort die suurdeeg oor te loop uit die kastrol, daarom het jy die kastrol binne in die skottel geplaas.
Neem die kastrol kombuis toe en verwyder die aartappels uit die suurdeeg.
Plaas die 2.7 kg broodmeel en sout in ‘n groot knieskottel, voeg die suurdeeg by en meng goed deur.
Voeg ekstra louwarm water bietjies bietjies by sodra die deeg begin droog raak, hou aan water byvoeg soos jy knie, totdat jy ‘n elastiese deeg het.
Knie vir nog ‘n halfuur, bedek die deeg met plastiek en laat staan op warm plek om te rys tot dubbel die volume.
Knie die deeg af, verdeel die deeg en plaas in gesmeerde broodpanne.
Laat die deeg weer in die panne rys op ‘n warm plek of ‘n lou oond.
Smeer geklitste eier met bietjie melk gemeng oor die deeg en bak in ‘n voorverhitte oond by 200ºC vir 1 uur.

Nota:
Jy kan ook ‘n stukkie deeg afsny voor jy die deeg in die panne plaas, voeg ekstra broodmeel en sout by, knie met louwarm water en knie 2 groot eetlepels uitgebraaide sagte skaapstertvet in. Knie goed, plaas in ‘n voorbereide broodpan, laat die deeg uitrys, smeer met eier-melkmengsel en bak soos brood. Wanneer dit gaar en afgekoel is, sny of breek in stukke en droog uit vir beskuit.

Resep: Louisa Rossouw Hollenbach

NETTA BURDEN SE PLAASBROOD MET AARTAPPELSUURDEEG

  • 2.5 kg broodmeel
  • 1 groot aartappel, ongeskil, afgewas en halveer
  • lou water
  • ½ teelepel sout
  • ½ koppie suiker

Om in te suur vir broodbak benodig jy heelwat warmhougoed soos bv ou tafeldoeke, ou komberse, soos babakombersies of soos ons gebruik het oorgetrekte komberse (gee lekker karakter aan jou doeke), koerantpapier en winkel sakke.
Kook die water en ‘dek’ intussen jou warmhoubed.
Vir die buitenste laag wat dus onder die skottel gaan lê, gebruik jou grootste toedraai kombers, want dit moet alles lekker bymekaar hou.
Plaas nog ‘n kombersie of 2, want die suurdeeg moet vir ongeveer 8 ure warm bly word om te ontwikkel.
Dan ‘n koerant en dan ‘n winkelsak waarin jy die kastrol of emmer of wat jy ookal gaan gebruik om suurdeeg in aan te maak gaan plaas.
Ek gebruik ‘n 2 liter kastrol en vul dit so half met kookwater.
Plaas die aartappel in die water in die kastrol en voeg die sout en suiker by.
Laat die water en aartappelmengsel afkoel ± 15 – 20 min (jy moet jou vinger vir 10 tellings daarin kan hou en nie brand nie, as dit te warm is, sal die deeg dood brand).
Gebruik ‘n vurk en klits van die meel, bietjies-bietjies in die water en aartappelmengsel, totdat dit amper soos ‘n koek se deeg lyk, dalk ‘n bietjie stywer.
Strooi ‘n bietjie droë meel bo-oor, plaas die kastrol se deksel op en plaas dit in die inkopiesak, sodat die suurdeeg later in die sak kan ‘oorloop’, dan is jou doeke nie bemors met suurdeeg nie.
Vou die kante van die sak lekker om die kastrol en dan begin jy met elke kombersie apart omvou tot die laaste groot kombers.
Dis belangrik dat die suurdeeg warm bly, wintertyd het ek later in die aand ‘n warmwatersak op die kastrol gaan plaas.
Ongeveer 8 – 10 ure later kan jy begin loer, die kastrol moet vol ‘geskuim’ wees, soos die deeg gerys het.
Somtyds loop die suurdeeg al oor die randte van die kastrol teen hierdie tyd.
As die kastrol nog nie vol is nie, maak seker dis nog sterk louwarm, indien nie maak sterk louwarm water en voeg dit in ‘n groot bak of skottel en plaas die kastrol met die sak om, binne in die water.
Bedek weer met die warmmaakgoed en laat staan om te rys.
Wanneer die suurdeeg gereed is (kastrol vol gerys), verwyder die aartappel uit die suurdeeg.
Kook ekstra water vir die knieproses.
Neem verskeie bekers (ongeveer 4 x liter bekers) waarin jy die water kan gereed kry vir die knieproses.
1 ste beker – voeg bietjie sout in en vul die beker sowat halfvol met warmwater, voeg koue water by tot die regte temperatuur, jy moenie die deeg brand nie, maar dit moet warm genoeg wees, sodat die deeg weer kan rys. Herhaal met die ander bekers.
Voeg die res van die 2.5 kg meel in ‘n knieskottel, maak ‘n groterig holte in die middel en giet die suurdeeg in die holte en bedek dit met die meel.
Giet sommer die eerste lou soutwater in die suurdeegkastrol om uit te spoel, dan kry jy die maksimum suurdeeg in die deeg.
Meng die suurdeeg deur die meel en voeg die louwater bietjies bietjies by soos benodig.
Die deeg moenie te slap wees nie, rol die deeg om en om.
Dit moet ‘n stywe deeg wees wat jy kan knie, nie te styf nie, anders rys die deeg nie lekker nie.
Die deeg sal gereed wees as dit nie meer aan jou hande kleef nie.
Vryf die laaste deeg van jou hande af met bietjie droë meel.
Strooi bietjie meel bo-oor die deeg (dis opsioneel) en plaas die skottel op ‘n houer met sterk louwater om te rys.
Gooi weereens die warmhougoedjies bo-oor en laat staan totdat dit ongeveer dubbel gerys het in volume.
Ek het in my buiteoond vuurgemaak!
Smelt intussen ‘n bietjie ‘sousvetjies’ (ai op die plaas was die vet wat ons uitgebraai het soooo lekker, sousvet is die vetjies wat jy afgooi, wanneer jy vleis gekook het), jy kan ook margarien gebruik.
Skakel jou oond aan op louwarm, ek kan nie presies die temperatuur gee nie.
Wanneer die deeg klaar gerys het, maak sommer met jou vuis gate in die deeg en stort oral bietjies van die vet / margarien oor die deeg en begin knie die deeg totdat die vet of smeer lekker deur geknie is.
Maak stukke van die deeg af en plaas in voorbereide panne tot ongeveer halfvol. Ek het die panne eers bietjie in die oond geplaas om effens warmer te word, nie té warm nie, net lou.
Druk die deeg netjies en laat weer die deeg in die panne tussen jou warmmaakgoedjies rys.
Ek het ook ‘n ‘bed’ voorberei vir die panne. Onder, genoeg komberse of doeke vir lekker hitte, dan die panne en dan ‘n doek bo-oor en verder weer kombersies.
Wanneer jy dit klaar gedoen het, verhoog die oond se hitte tot 180ºC.
Wanneer die panne vol gerys het, smeer geklitste eier bo-oor (of melk) en plaas die panne in die oond.
Bak die brode ongeveer 1 uur plus, draai die panne so elke 20 minute (agterstevoor of onderste panne boonste rak toe).
Wanneer die brode mooi bruin bo-op en die brood lekker lig voel, is dit reg.
Keer die brode uit die panne op doeke, soms moet ek eers met ‘n skerp mes die kante losmaak.
Maak die brode liggies toe met ‘n doek en laat die brode afkoel.

Resep: Netta Burden

PETRE SE BOERBROOD-BESKUIT (SOETSUURDEEG)

Ek suur gewoonlik so om en by 4 uur die middag in en suur dan oor in, die volgende oggend wanneer ek opstaan, binne ‘n uur is die kastrol vol. Die resep lewer ongeveer 3 groot brode.

  • Aartappelsuurdeeg:
  • 500 ml water
  • 1 medium aartappel, gewas
  • ½ teelepel suiker
  • bruin broodmeel
  • knippie sout

Sny die aartappel met skil en al in plat skywe, voeg die aartappel, suiker en sout met die water in ‘n kastrol (+- 2 liter kastrol).
Bring tot kookpunt op ‘n stoofplaat.
Laat dit afkoel vir 10 minute tot louwarm.
Strooi 5 medium handgrootte bruin broodmeel bo-op die water.
Maak ‘n gaatjie in die middel, plaas die deksel op die kastrol en plaas die kastrol binne in ‘n plastieksak en vou dit toe met komberse.
Laat die suurdeeg ongeveer 16 ure staan.
Wanneer die suurdeeg borrel en skuim, roer dit goed deur met ‘n vurk.
Voeg 1 handvol broodmeel by en ongeveer ‘n ½ koppie louwarm water en roer goed deur.
Strooi bietjie droë meel liggies bo-oor, plaas die kastrol se deksel op en plaas die kastrol in ‘n skottel met sterk louwarm water om die kastrol warm te hou sodat die suurdeeg kan rys.
Dit neem ongeveer 1 uur om die kastrol vol te rys.

  • Brood:
  • 2,5 kg broodmeel
  • 1 koppie gesmelte skaapvet
  • 1 teelepel sout
  • ekstra louwarm water

Verwyder die aartappel uit die suurdeeg.
Voeg die broodmeel, vet en sout in ‘n knieskottel en voeg die suurdeeg by (kan fyn kaiings byvoeg) en knie tot die deeg nie meer aan die hande vassit nie.
Indien die deeg te styf is, voeg bietjie louwarm water by.
Verdeel die deeg in 3, plaas die deeg in gesmeerde broodpanne en druk dit effens plat.
Bedek die panne met kleefplastiek en plaas die panne op ‘n warm plek vir die deeg om te rys tot die panne vol is.
Bak die brood in ‘n voorverhitte oond by 180ºC vir ongeveer 45 – 60.
Die brode kan opgebreek word in stukke en uitgedroog word in ‘n louwarm oond vir beskuit.

Resep en foto’s: Petré Van Jaarsveld

Category:

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page