KERRIEHOENDER MET TAMATIE, UI EN KOMKOMMERSLAAI
Moet sê die kerrie vir die hoender was effe sterk vir my, so mens moet maar aanpas. Ek het ook sommer ‘n groot aartappel in blokkies onder die hoender in die bak gepak en dit was heerlik. My dis het effe droog geraak met die staan en wag vir my man, sal dit volgende keer gouer uit die oond haal. Mens kan dit lekker opdien met rys as daar ‘n lekker sous is.
- Kerriehoender:
- 8 – 10 stukke hoender
- sout en peper en speserye na smaak
- koekmeel in ‘n plastieksak
- 2 eetlepels mayonnaise
- 1 eetlepel blatjang
- 2 teelepels heuning, rofweg hoogvol
- ¼ koppie soetrissie sous
- 1 teelepel kerriepoeier, of na smaak
- 1 teelepel borrie
- 1 teelepel mosterdpoeier of 1 eetlepel mosterdsous
- knoffelvlokkies, na smaak
- 1 groot aartappel, opsioneel
Maak die hoenderstukke skoon, geur met jou keuse van speserye, sout en peper. Plaas die hoenderstukke saam met die koekmeel in ‘n plastieksak en skud/meng lekker deur.
Pak die hoenderstukke in ‘n oondbak met ‘n deksel. Opsioneel het ek ‘n groot aartappel in blokkies gesny en onder die hoender stukke in die bak gepak.
Meng al die sousbestanddele goed saam. Ek het ‘n bietjie water bygevoeg om dit effe meer loperig te maak.
Giet die sous oor die hoenderstukke. Laastens strooi sommer net ‘n bietjie knoffelvlokkies oor. Bak in die oond teen 180°C vir ‘n uur of tot mooi goudbruin bo-op.
- Tamatie, ui en komkommerslaai:
- ½ komkommer
- 3 tamaties
- ½ ui
- Sous:
- 1 eetlepel suiker
- 2 eetlepels asyn
- 1 eetlepel olie of olyfolie
- sout en growwe peper na smaak
Skil die komkommer as jy so verkies, en sny in growwe stukke.
Sny ook die tamaties in wiggies en die ui in skywe.
Meng die sousbestanddele saam en meng goed met die ui, komkommer en tamatiestukke. Plaas vir ten minste 2 uur in die yskas. Meng weer deur voor opdiening.
Resep en foto: Stien Rust

