WARM KAAS-EN-VLEIS BROODJIES
Ek het gedink ek deel die resep vir ‘n ligte middagete, of nog beter: padkos. Ek het dit aangepas van ‘n resep van die TV-reeks Pioneer Woman; so, dit is hoe die manne in ons huis (en die vrou) daarvan hou. Dit is dalk nie die mooiste foto nie, maar moes die foto vinnig neem, anders was al die bewyse weg! Jy kan ‘n klomp van die broodjies maak en in die foelie in die vrieskas hou – bak dan net vanaf gevries vir vyf minute of langer.
- 12 broodrolletjies, 2 – 3 dae oud
- 1 koppie mayonnaise
- 2 teelepels gerasperde ui
- 2 eetlepels geroomde peperwortelsous (creamed horseradish)
- 2 teelepels mosterd
- 2 teelepels papawersaad
- 2 eetlepels toebroodjiesmeer (sandwich spread)
- 6 groot snye gaar deli ham
- 6 groot snye deli geroosterde beesvleis (roast beef)
- 12 velletjies geprosesserde-kaas
- 350 ml gerasperde Cheddarkaas
- 350 ml gerasperde Mozzarellakaas
- foelie
Sny die rolletjies in die helfte deur. Meng die mayonnaise, ui, peperwortel- en mosterdsous, papawersaad en toebroodjiesmeer saam.
Smeer oor die 24 helftes.
Sny die ham- en beesvleisskywe in die helfte, en verdeel alles tussen die rolletjies in hierdie volgende volgorde: geprossesserde kaas, ham, Cheddarkaas, beef en Mozzarella.
Rol elke rolletjie toe in foelie, en plaas in die oond by 180 °C vir 15 – 20 min.
Pak in vir padkos, of eet dit dadelik net so uit die foelie.
Resep en foto: Ilze Garbers Jacobs