TUISGEMAAKTE MALVALEKKERS
- 30 ml gelatien
- 400 g (470 ml) suiker
- 15 ml vloeibare glukose of gouestroop
- 2 groot eierwitte
- vanieljegeursel, opsioneel
- koskleursel, opsioneel
- 50 ml versiersuiker
- 50 ml mielieblom
Sprinkel die gelatien oor 100 ml water in ’n klein bakkie.
Meng die suiker, glukose, ’n knypie sout en 250 ml water in ’n kastrol.
Verhit dit oor lae hitte sonder om dit te laat kook en roer tot al die suiker opgelos het.
Verf kristalle teen die kant van die kastrol met ’n bietjie water af.
Laat die mengsel prut sonder om dit te roer tot dit die sagtebal-stadium (112 – 115 °C) bereik.
(Om dit te toets kan jy ’n klein bietjie van die stroop in ’n bakkie met koue water drup – dit moet ’n sagte bolletjie vorm.)
Roer die gelatien mengsel by en sit dit eenkant.
Klits nou die eierwitte styf.
Voeg die vuurwarm stroop in ’n egalige, dun straaltjie by terwyl die klitser loop.
Klits vir omtrent 10 – 15 minute of tot die mengsel baie dik is en afgekoel het.
Voeg die geursel en kleursel by, indien jy dit gebruik.
Klits weer goed, tot die mengsel sy vorm behou.
Sif die helfte van die versiersuiker en mielieblom in ’n bak van 20 x 25 cm wat met bakpapier gevoer is.
Skep die malvalekkermengsel in die bak en sif die orige mielieblom en versiersuiker bo-oor. Laat dit staan om te stol.
Maak ’n skerp mes warm en sny die gestolde malvalekkermengsel in blokkies, of gebruik ’n koek- drukker om vorms daaruit te sny.
Malvalekkers met geroosterde klapper:
Volg die resep hier BO, maar gebruik geroosterde klapper in die plek van die mielieblom en versiersuiker.
Druk die kante van die malvalekkers ook in geroosterde klapper nadat jy dit in blokkies gesny het.
Resep en foto: Cindy Groenewald