TUISGEMAAKTE FETA KAAS MET LANGLEWE MELK
- 1 liter volroom langlewe melk (boksie melk)
- 100 ml wit asyn
- 1 koppie lou water
- 2 teelepels sout
- knoffel vlokkies, knoffel, pietersielie en sout, na smaak (kan ook afgewissel word met gekapte bosbessies (cranberries) en sout na smaak)
Voeg asyn by melk in kastrol. Bring tot kookpunt oor ‘n stadige hitte en laat kook vir 5 minute sonder om te roer.
(Mengsel sal begin skei.)
Gooi mengsel deur ‘n sif met ‘n kaasdoek en laat staan tot dat alle oortollige water gedreineer het.
Wanneer goed afgekoel, druk laaste vloeistof uit die kaas in die kaasdoek.
(Kaasdoek kan ook vervang word met ‘n lap wat goed dreineer)
Skep kaas uit kaasdoek en geur met knoffel vlokkies en knoffel en pietersielie sout.
(Of bosbessies en sout)
Druk kaas stewig vas in ‘n bakkie. (Ek het sommer die ‘patty’ drukker gebruik)
Plaas in yskas tot goed afgekoel.
Sny in breë blokke.
Los 2 teelepels sout op in 1 koppie louwater en laat afkoel.
Plaas kaas blokke in houer en vul met water en sout mengsel en bêre in die yskas vir gebruik.
Lekker en baie maklik. Geniet.
Resep en foto: Kobus van Heerden
MIDDAG
MY kaas krummel bietjie te veel sukkel om blokkies te sny
wat is fout?
dankie
Daar kan ‘n paar redes wees, maar ek het gevind dat wanneer ek volroom melk gebruik en dan nog ‘n houertjie room ook bysit dan is dit minder krummelrig, dan moet mens nie teveel klits en meng nadat jy dit uitgeskep het nie. Ek vat botterbakkies maak gaatjies daarin en druk die kaas direk daarin vas, sodat die water onder uitloop, as mens teveel klits en meng krummel dit ook baie. Dit moet baie baie goed vasgedruk word en gelos word sodat die vloeistof dreineer. Hoop dit help.
Omtrent hoe veel gram kaas kry mens uit liter melk?
Nie veel niet seker so ongeveer 250- 300 g.