TANNIE ANS SE RYP VYEKONFYT
Ek het in die week vyekonfyt gekook. Ek het ‘n vriendin van my skoonma Tannie Ans van Zyl se resep gebruik. Tannie Ans was ‘n beoordeelaar van die VLU gewees. Sy het ‘n resepteboek saamgestel vir beginners.
Gebruik vye wat net ryp is maar nog ferm. Skil mooi dun af en prik met ‘n hoedespeld.
- Laat lê nou in kalkwater oplossing van:
- 560 ml water
- 2 teelepels gebluste kalk
Maak die kalk met ‘n bietjie water aan en meng met die bak met water. Laat staan vir ongeveer 30 minute.
Filter boonste kalkwater deur een laag kaasdoek. Pak die vye in ‘n groot skottel en giet die kalkwater daaroor.
Laat staan vir ten minste 5 – 6 ure.
- Maak intussen stroop – vir 910 g vye:
- 455 g suiker
- 2 suurlemoene se sap
- 8 – 9 koppies water
- 3 – 4 stukke droë gemmer (verkrygbaar by speserye winkels)
As vye gereed is, word dit met koue skoon water baie goed afgespoel en op ‘n doek effe drooggemaak. Pak in kokende stroop.
Sit deksel op en kook vir 20 minute. Haal af van die stoof af en laat staan tot die volgende dag.
Volgende dag:
Sit pot op stoof en verhit stadig. Sodra dit begin kook kan die plaat bietjie hoër gedraai word en deksel verwyder word.
Skuim sal vorm, skep voortdurend af.
Na 40 minute of bietjie langer sal die skuim begin om boontoe te kom. Dit kan oorkook, wees bedag daarop.
Skep nou bietjie stroop in ‘n piering en sit in vrieskas.
Draai intussen die stoof stadiger. Na 4 – 5 minute sal die piering se stroop koud wees.
Hou die piering skeef, as ‘n roompie vorm, is die konfyt reg.
Die stroop moet ook kasterolie dikte wees. Hou in gedagte dat heel vrugte met vog gevul is en kan na ‘n paar dae wys dat die stroop dun is. (Tannie Ans se wenk – kook volgende keer die vye bietjie langer)
Pak in warm flesse en verseël.
Laat oornag om koud te word. As die gewone consul flesse gebruik word, kan die geel ringe nou afgedraai word en die flesse skoon gemaak word.
Draai weer die geel ring liggies op die plat metaal dekseltjie behoort na 5 – 10 minute vanself in te duik, anders is die bottel nie geseël nie.
Foto: Elna Erasmus