SUURLEMOENVLA KOLWYNTJIES
Vandag gou gemaak. Ek was net vreeslik lui. Het sommer ‘n 125 ml boksie vla gemeng met winkel lemon curd (volgens die resep) en miskien was dit effe min. Ek dink ook tuisgemaakte vla sal lekkerder smaak en heel moontlik minder loperig wees. Ek sal ook volgende keer probeer om my deeg op die bodem dikker te maak en die deeg bo-oor minder dik. Dan moet mens dalk met elkeen wat jy bo-op skep die deeg dadelik uitsprei voordat jy die volgende een doen, want my deeg was redelik dik in die middel. MAAR hulle smaak heerlik!! Dit maak 12 kolwyntjies/muffins, ek het egter ‘n muis in die huis wat een warm opgeëet het en daarom is daar net 11 op die foto. 😉
- Beslag:
- 150 g botter by kamertemperatuur, klein blokkies gesny
- ½ koppie strooisuiker
- 1 teelepel vanilla
- 2 eiers
- 200 g (1⅓ koppies) bruismeel
- ⅓ koppie melk by kamertemperatuur
- versiersuiker, vir versiering
- Suurlemoensmeervla (lemon curd):
- 1½ eetlepel vlapoeier
- 2 teelepels strooisuiker
- ¾ koppie melk
- ⅓ koppie suurlemoensmeer
- gerasperde skil van 1 suurlemoen
Maak die vla eerste, want dit het tyd nodig om goed af te koel.
Plaas vlapoeier en suiker in ‘n klein kastrol om die vla te maak. Voeg net genoeg melk by om ‘n pasta te maak en voeg dan oorblywende melk by. Laat stadig kook oor matige hitte, roer aanhoudend. Verlaag die hitte en laat prut vir 2 minute. Plaas eenkant om heeltemal af te koel, en roer af en toe. Roer die suurlemoensmeer en skil by die vlamengsel.
Verhit die oond tot 180°C (160°C waaier). Smeer ‘n muffinpan van 12 x ½-koppie.
Gebruik ‘n elektriese klitser om die botter, suiker en vanilla in ‘n bak te klop tot dit romerig is. Voeg eiers een vir een by en klits goed na elke toevoeging. Klits meel en melk by tot goed gekombineer.
Skep 1 eetlepel mengsel in elke muffinpangatjie en smeer effens teen kante van die gatjie ook. Vul met 1 eetlepel vlamengsel en skep nog 1 eetlepel beslag bo-oor. Probeer die vla omhul/toevou in die beslag. Herhaal dit met oorblywende muffinpangate. (maak goed seker die deeg bedek die vulsel heeltemal, want dit is geneig om bo uit te kook)
Bak vir 22 tot 25 minute, of tot goudkleurig. Laat afkoel vir 5 minute in pan voordat dit op ‘n draadrak uitgekeer word om verder af te koel. Sit voor met versiersuiker.
Foto’s: Stien Rust
Resep geplaas deur Stien Rust