SPEK, PREIE EN FETA QUICHE
Vir al die keto/low carbers en diabete…quiche met ‘n kors! Heerlik vir die somer, veral saam met ‘n slaai vir middagete. En ja…korslose quiche is lekker maar quiche met ‘n kors is fantasties!
- Kors:
- 130 ml sonneblommeel
- 200 ml amandelmeel (of gebruik net sonneblommeel as jy wil)
- 1½ teelepel klappermeel
- 1½ teelepel gemengde kruie
- 2 eetlepels koue botter
- 2 teelepels koue water
Plaas die korsbestanddele in ‘n voedselverwerker en pols totdat dit min of meer in ‘n bal bymekaar kom. Druk die deeg in ‘n gesmeerde 30 cm losboom tertpan vas.
- Vulsel:
- 10 ml olyfolie
- 250 g spek, in stukkies gesny
- ½ – 1 medium prei, gewas en in ringe gesny
- 1 klein rooi ui, in skywe gesny
- sout en peper na smaak (nie te veel nie want die spek en feta is redelik sout)
- 125 ml gerasperde kaas
- 1 – 1½ wiel Fetakaas
- 1 ¼ koppie room
- 5 groot eiers
- 2 teelepels grasuie, fyn gekap
- knippie sout
Braai die spek in die olie tot bros.
Skep uit die pan, giet bietjie van die olie af en braai die prei en ui oor medium hitte tot sag (10 – 15 minute).
Voeg geurmiddels by en roer die gaar spek deur.
Sprinkel die gerasperde kaas bo-oor die basis van die kors.
Skep die preivulsel bo-op en versprei egalig. Krummel die Fetakaas bo-oor.
Klits nou die room, eiers, grasuie en sout saam, en giet bo-oor die preivulsel.
Bak die quiche vir 45 tot 50 minute by 160 ºC totdat die eiermengsel in die middel gestol is.
Laat afkoel in die yskas, sny en bedien.
Resep en foto’s: Ilze Jacobs