SLAPDEEG SKONS MET ‘N VULSEL
Kyk hoe lekker het ek gespeel met die baie populêre “skontipe degie”.
Ek het net die deeg gebak sonder ‘n vulsel, julle sal sien hy vorm so mooi dekseltjie. Wanneer dit uit die oond kom, het ek die dekseltjie mooi uitgesny soos op die foto, die gaatjie vol botter en kaas gevul, weer die hoedjie bo-op geplaas en dit bietjie laat staan tot die kaas gesmelt was. Dit is regtig heerlik en dit is fantasties vir die kosblik as jy nie noodwendig vleis het om in te sit nie.
- ¾ koppie melk
- ½ koppie olie (kan minder ook gebruik)
- 2 eiers
- 1 koppie koekmeel (glutenvrye broodmeel gebruik)
- ⅓ koppie semels, opsioneel
- 3 teelepels bakpoeier
- ¼ teelepel sout
- 1 teelepel mosterdpoeier
Klits die melk, olie en eiers saam in ‘n maatbeker.
Meng die droë bestanddele in ‘n mengbak en voeg die melkmengsel by die droë bestanddele en meng goed deur.
Spuit ‘n muffin pan met 6 gaatjies met kleefwerende kossproei.
Skep die deeg in die muffin gaatjies.
Bak die skons in ‘n voorverhitte oond by 180ºC vir ongeveer 15 minute tot ligbruin.
Verwyder die pannetjie uit die oond en haal die skons versigtig uit.
Sny die “hoedjie” van die skon af en plaas ‘n vulsel van jou keuse binne in die holte, plaas die “hoedjie” weer terug bo-op die vulsel en laat staan ‘n rukkie vir die kaas om te smelt.
Geniet
Resep aangepas en foto: Rina Kleinhans