Your Recipe Blog

RYP MANGO BLATJANG

RYP MANGO BLATJANG

Ek het dit vir ‘n kompetisie eenkeer gemaak en 1 ste gekom. So dit is regtig lekker.

  • 1.5 kg ryp mango’s, geskil en in blokkies gesny (weeg die blokkies)
  • 3 uie, fyngekap
  • 600 ml bruin druiweasyn
  • 450 g witsuiker
  • 6 cm stuk vars gemmer, geskil en fyn gerasper
  • 10 ml mosterdpoeier
  • 5 ml borrie
  • 5 ml sout

Berei eers jou bottels voor en begin dan met die blatjang, aangesien dit baie goed opgepas moet word terwyl dit kook en jy nie kans sal kry om bottel voorbereiding te doen gedurende die kookproses nie.
Was die bottels met warm water (moet nie uitdroog nie) en plaas onderstebo in die oond.
Sodra al jou bottels in die oond is, kan jy die oond aansit op 100ºC .
(Jy kan dit later aanskakel byvoorbeeld net nadat al die suiker opgelos is in die blatjang — maar moet nie vergeet nie!)
Plaas al die deksels van jou bottels in ‘n pot en bedek met water.
Sit op die stoof maar wag eers tot die blatjang halfpad gekook is voordat jy die plaat aanskakel.
Prut die mango’s en uie in die asyn vir ongeveer 15 minute, tot sag.
Voeg die res van die bestanddele by en roer oor lae hitte tot die suiker opgelos is.
Onthou om nou seker te maak dat die oond aan is met jou bottels (indien jy my inmaak metode gebruik).
Prut vir ongeveer ‘n uur tot dik, roer dit gedurig om te verhoed dat dit aanbrand.
Blatjang moet oor lae hitte, lank geprut word sodat die geure goed vermeng en die waterigheid verdamp.
Sodra die blatjang gereed is, skakel die plaat af en begin onmiddellik bottel.
Neem jou bottel uit die oond, sit jou tregter op en skep vol tot 1 cm vanaf die bo-rand van die bottel, skroef die deksel op en plaas eenkant om koud te word.
Onthou om nie jou bottels te na aan mekaar te pak nie, aangesien die middelste bottels sal aanhou kook en die blatjang sal brand. Plaas bottels minstens 20 cm uitmekaar.
Gedurende die afkoel proses, sal jy moontlik knal geluide hoor, dit is normaal, dit is maar net die klank wat die deksel maak sodra die bottel ‘n vakuum getrek het.
Sodra afgekoel, was bottels af en etiketteer.
Die blatjang sal in ‘n maand gereed wees om te eet.

Foto en resep: Esmé du Plessis

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page