ROOIBOK SKENKELPOT
Ek het gisteraand ‘n rooibok skenkelpot gemaak nou ek wil vanoggend my potjie onderving dinge en ervaringe deel en julle kan nou maar dié kant toe of daai kant toe dit is wat ek oor die jare ondervind het en dis nogals ‘n klomp, want ek is darem al oppad 70 toe.
Baie mense sê jy moet in karringmelk laat lê, dit kan dalk werk, maar ek’t dit nog nooit gedoen nie en ook nie allerhande truuks probeer nie.
Vat hom netsoos hy van sy ma afkom.
Baie mense sê die vleis moet eers vooraf saam met uie gebraai word, ek het dit al baie gedoen en baie kere ook nie gedoen nie en die eindresultaat van die pot is nie ‘n whaaou verskil nie.
Wat vir my belangrik is en omdat my tanne ook nou al begin uitval moet die vleis in die eerste plek sag wees, want dit kan hoe lekker gegeur of gespice wees maar assit taai is issit nie lekker nie.
Só dit sê net vir my een ding – kook dit lank genoeg en stadig, sodat in die geval van ‘n skenkelpot jou lymerigheid nie verlore gaan wat baie maklik gebeur as jy dit te vinnig kook, ons weet mos almal hoe lekker is daai taaierigheid oppie lippe.
‘n Ander ding wat ek wil deel is dat as jy macaroni of spaghetti kook, moenie die water wat afgetrek word, weggooi nie, vries dit en gebruik dit by potjie maak as jy water wil of moet byvoeg, dit maak ‘n reuse verskil aan die uiteinde.
Nie net dit nie, maar ook enige oorskiet sous, vries en gebruik later by jou potjie makery, ek het bv die skaapkop se uierige sous gebêre deur dit te vries vir later se gebruik en gisteraand het dit net my potjie bevoordeel, want ek het dit bygevoeg en was heerlik saam met die skenkels.
Ek bêre ook bv. sodawater watse gas uit is in my potte se makery as water bv bygevoeg moet word.
‘n Ander wenk ook is om nie jou pot aanmekaar oop en toe te maak as dit gereed is om te begin prut of sag te kook nie want elke keer as jy die deksel afhaal, gaan alle stoom hitte uit en dit is die outjie wat die taai moet wegvat van die vleis.
Ook roer ek nie sommer my pot nie, anners sit jy later met ‘n papperellie en alles is pap gekook.
Proe gereeld jou pot en besluit wat moet bykom na jou smaak soos jy jou pot wil laat proe.
Reguleer ook die hitte dat daar altyd egalige hitte is en nie die eenkeer ‘n hewige klomp vlamme en die ander oomblik net as.
- 2 kg rooibok skenkels
- 1 groot wortel, in repies gesny
- 6 redelike groot aartappels
- 2 koppies gekerfde kopkool
- 3 eetlepels suiker
- 1 eetlepels knoffelvlokkies
- 1 teelepel rissievlokkies
- 200 ml oorskiet skaapkopsous of vleisaftreksel
- sout en peper na smaak
Gebruik ‘n swartpot met bietjie olie en braai die skenkels tot ligbruin.
Voeg die uie by en braai saam met die vleis.
In die geval het ek die skenkels netso in die pot geplaas en ‘n bietjie gebraai en toe die uie bygevoeg en ‘n rukkie gebraai saam met die vleis.
Voeg oorskiet sodawater (ongeveer 300 ml) by en laat prut vir 2 ure. Gebruik water indien jy nie sodawater het nie.
Voeg die skaapkopsous of die vleisaftreksel by en laat prut stadig vir ‘n uur.
Hou maar die vloeistofvlak dop en voeg ‘n bietjie oorskiet sodawater by indien nodig.
Proe die vleis en voeg sout en peper, rissievlokkies en knoffel na smaak by.
Voeg die aartappels en wortel by die vleis en kook nog vir ongeveer 40 minute.
Proe en geur met sout en peper soos verkies. Voeg ook 3 eetlepels suiker by.
Voeg laastens die kool by en prut vir sowat 40 minute tot die kool mooi glaserig voorkom.
Nota:
Hierdie pot was voorwaar baie lekker saam met ‘n skeppie rys asook tuisgemaakte beetslaai.
Dit was nie taai nie – dit het nie ‘n wilde smaak gehad nie – die vleis was supersag en lekker.
Resep en foto: Gideon Louw