RINA SE LEKKER BRUINBROOD- GEEN KNIE
Hierdie broodjie is gebore uit baie probeerslae, en nou het ek ‘n broodjie wat nie sooibrand gee nie, en heerlik is.
- 3 koppies nutty wheat
- 2 koppies bruinbroodmeel
- ½ koppie witbroodmeel
- 1 koppie semels
- 60 ml sonneblomsade
- 15 ml sout
- 45 ml bruinsuiker
- 1 x 10 g pak kitsgis
- 3 koppies lou water
- koue melk om oor te smeer
Smeer ‘n groot brood pan of 2 kleintjies of ‘n muffinpan en ‘n broodpannetjie.
Meng al die droë bestanddele en maak aan met die lou water. (sit bietjie water by indien die deeg te styf is, moet met ‘n lepel kan meng.)
Skep die deeg in die voorbereide pan/panne en sit in die lou oond om te rys tot dubbel die grootte.
Voorverhit die oond tot 180°C.
Bak vir ongeveer 45 min tot die brood mooi bruin is en hol klink as jy daarop klop.
Haal die brood uit, sit op afkoel rak en verf met koue melk om ‘n lekker korsie te kry.
VARIASIE
Jy kan een klein broodjie bak en die res van die deeg in jou muffin pan skep en klein broodjies bak. Sorg net dat jou muffin pan en broodpan gelyk in die oond kan ingaan en haal die muffin broodjies uit na ongeveer 30 min.
Resep geplaas deur Rina Kleinhans
2de foto: Rina Kleinhans
Foto: Henda Joubert – sonder semels en sade
Henda Joubert
Ek wil net vir Rina laat weet, haar Lekker bruin brood – geen knie resep is ‘n wenner!
Ek het die resep net so gemaak, maar geen semels of sade bygevoeg nie. Dit is beslis my nuwe resep vir ons elke-dag brood!