POTGEBRAAIDE VARK ROOSTERSTUK MET ROOIWYN EN SPEK SOUS
- 1,2 kg vark roosterstuk
- 1 groot ui, in growwe stukke gekap
- 2 eetlepels botter
- 1 eetlepel olie
- ongeveer 300 ml rooiwyn
- ongeveer 8 – 10 kruienaeltjies (afhangende van die grootte van die roosterstuk)
- ongeveer 8 – 10 koljandersade
- knoffeltoontjies, opgesny in 8 – 10 skyfies
- 250 g ontbytspek, in klein stukkies gesny
- 1 teelepel heel koljandersade (apart van die ander)
- 1 teelepel droë roosmaryn blare
- 1 teelepel oreganum
- 2 eetlepels growwe sout
Druk gaatjies in die roosterstuk en vul elkeen met ‘n koljandersaad, naeltjie, knoffelskyfie en seël die gaatjie met ‘n stukkie spek. Hou die orige spek eenkant. Maak die ander speserye fyn saam met die sout en vryf dit deeglik oor die hele stuk vleis.
Verhit die botter en olie in ‘n groot kastrol (‘n platboom swartpot werk nog beter) tot baie warm en braai die vleis daarin tot dit goed bruin raak en verseël is aan alle kante. Voeg die uie en orige spek stukkies by en laat braai tot die uie begin verbruin en sag raak. Voeg ‘n derde van die wyn by en skraap die bodem van die kastrol om al die aanbrandsel stukkies los te kry. Bedek die kastrol, verlaag die hitte en laat prut stadig tot feitlik al die vloeistof op is en die vleis weer begin braai. Draai die vleis om en voeg nog ‘n bietjie van die wyn by. Herhaal die proses, maar sodra die vleis weer begin braai, voeg bietjie water by. Op hierdie stadium kan aartappels en wortels by die vleis in die kastrol geplaas word. Herhaal die proses met bietjies water tot die vleis gaar is. Die vleis is reg wanneer ‘n skerp toetspen ingedruk word en die vloeistof wat uitkom helder is en nie meer bloederig nie.
Verwyder die vleis en bedek dit met foelie. Hou warm. Indien nodig laat die groente nog kook tot dit sag is en verwyder uit die kastrol. Voeg die laaste bietjie wyn by die sous in die kastrol, skraap die bodem deeglik en laat vinnig kook tot dit effens afgekook het. Indien dit blyk dat daar te min sous is, kan nog bietie water bygevoeg word. Giet die sous oor die vleis en bedien saam met die groente en rys.
Resep geplaas deur Adam Cloete
Foto: Adam Cloete