‘PORK BELLY’ IN DIE STAANROOSTER
Ek en vroulief het vanaand hierdie heerlike ‘pork belly’ gebraai en ek wil graag verduidelik hoe ek dit so gekry het dat dit lekker krakerig is buite en lekker sag binne, maar ook deurgaar is aangesien ‘porkbelly’ gewoonlik ‘n dik stuk vleis is.
Sommige ouens sny dit stukkend nadat dit halfpad gebraai is maar ek glo daaraan dat al die sappigheid dan verlore raak.
Hierdie stuk vleis was heerlik sappig en deurgaar en ek het net sout en peper en suurlemoensap gebruik.
So as jy die fasiliteit het om die rooster langs die vuur te kan staanmaak soos ‘n staanrib dan plaas jy die ‘pork belly’ in ‘n toeklaprooster en plaas dit eers met die beenkant (indien daar bene in is) naaste aan die vuur as jy jou vuur aangesteek het.
Laat dit so staan en draai later om sodat die anderkant ook aan die vuurkant kom – hou maar dop, want dit kan skroei as die vlamme te naby is – sodoende kry dit daai lekker rookgeur en die hitte penetreer die vleis stadig tot binne.
Ek los dit so totdat die kole uitgebrand het met geen vlamme meer nie. Dit neem gewoonlik ‘n uur plus.
Dan krap ek ‘n paar kooltjies uit en braai dit stadig vir ‘n paar minute aan ‘n kant net vir ‘n egalige kleur. Gebruik hier jou oordeel indien jy dit nog ‘n bietjie wil braai.
Heerlik sag en sappig.
Nota:
Die ‘pork belly’ was vooraf met koljander besprinkel soos ek dit in die winkel gekoop het, maar ek het dit so te sê alles afgekrap voor ek begin braai het, want die koljander skroei en brand maklik. Ek verkies ‘pork belly’ sonder koljander, maar daar was nie voorraad nie.
Ons het dit geniet saam met ‘n skeppie noedelslaai, ‘n skeppie heerenboontjie en ‘ n skeppie aartappelslaai – alles vroulief se maaksels.
Resep en foto: Gideon Louw