PAPAJA, NARTJIE EN NEKTARIENKONFYT
Ek het twee papaja’s gehad wat regtig na niks gesmaak het nie, en toe besluit ek om konfyt daarmee te kook. Dit het regtig heerlik gekom, en ek kon die papaja’s red en nie weggooi nie.
- 2 groot papaja’s, geskil en in blokkies gesny
- 2 groot nekstariens, geskil en in blokkies gesny
- 3 nartjies, geskil en in skyfies middeldeur gesny
- suiker
- 60 ml suurlemoensap
- bietjie nartjieskil, in groot stukke
Die nartjie skil kan fyn gesny en in die konfyt gelos word, of jy kan dit in groot stukke in die konfyt sit en dit weer uitskep voor jy bottel, of sit dit in ‘n sakkie wat jy dan weer maklik kan uithaal wanneer die konfyt klaar gekook het. Dit is net vir pektien omdat ek nie geweet het hoeveel pektien die vrugte het nie.
Weeg al jou vrugte en gebruik dieselfde hoeveelheid suiker. Plaas die vrugte in die pot waarin jy gaan kook en voeg die suiker by. Roer goed deur en laat staan laat die suiker kan smelt.
Roer elke nou en dan. Sodra jy ‘n lekker stroop het, voeg die suurlemoensap by en sit die konfyt op die stoof.
Begin stadig kook tot jy seker is die suiker is heeltemal opgelos. Draai die hitte op en kook die konfyt lekker vinnig, roer gereeld en skep die skuim af, pasop vir oorkook.
Plaas ‘n piering in die vrieskas om lekker koud te word sodat jy jou stroop kan toets.
Toets die stroop elke nou en dan en sodra dit reg toets *, haal die nartjieskil uit (indien nodig) en bottel in goed voorbereide warm bottels, draai die deksels dadelik op en draai die bottels op hulle proppe tot heeltemal afgekoel.
Lewer ongeveer 750 ml konfyt, hang af van die grootte van die papaja’s.
*
Jy skep bietjie warm stroop op die yskoue piering en sit terug in die vrieskas vir ‘n paar minute, as jy jou vinger deur die stroop trek, en die paadjie bly oop is die dikte reg, as die paadjie toeloop moet jy nog kook, maw jy kook tot die dikte vir jou reg is en soos jy van jou konfyt hou, moet net nie te lank kook nie, jy kan ook ‘n yskoue lepel vat en as die stroop afloop is dit te dun, as dit af plonk in stukke is dit reg… hierdie konfyt hier bo sestroop is nie baie dik nie, die paadjie bly net mooi oop.
Resep en foto: Rina Kleinhans