OOM PAUL POEDING
Ek het die resep gekry in die resepteboek, 500 Uitsoek Resepte wat Old Mutual in 1972 uitgegee het. Die resepte is gekies van resepte wat lede ingestuur het en die inkomste uit die verkoop van die boek is vir liefdadigheid geskenk. Die betrokke resep kom van Mev. J Pelser van Stilfontein. Op die oog af lyk dit soos enige ander gebakte bruin poeding, maar daar is tog bietjie verskil. Probeer dit gerus vir hierdie koue wintersdae.
- 2 koppies koekmeel
- 1 koppie suiker
- 1 teelepel kaneelpoeier
- 1 koppie vars broodkrummels
- 2 eiers
- 2 eetlepels appelkooskonfyt
- 1 groot teelepel koeksoda
- bietjie melk
- Stroop:
- 4 koppies kookwater
- 2 koppies suiker
- 1 eetlepel botter
- 1 teelepel vanilla geursel
Meng die meel, suiker, kaneel, broodkrummels en eiers in ‘n mengbak en voeg dan die appelkooskonfyt en koeksoda wat met ‘n bietjie melk gemeng is, net genoeg om ‘n stywe deeg te vorm, by. Hou eenkant.
Laat kook die stroop bestanddele tot die suiker opgelos is.
Giet die stroop in ‘n oondbak en skep die deegmengsel in die middel van die bak in die stroop.
Bak by 180ºC vir ongeveer 20 minute.
Resep geplaas deur Adam Cloete
Foto: Adam Cloete