MIKROGOLF KARRINGMELK BESKUIT
Ek het in 2013 my mikrogolfoond beskuit resep geplaas, en ek dog ek deel dit weer met nuwe fotos. Ek het dit weereens effens aangepas, en ek kan nie glo ek het dit so lank laas gemaak nie. Dis regtig kinderspeletjies om te bak.
- Meng die volgende saam:
- 500 ml bruismeel, gesif (Ek sif dit nie, maar klits dit met ‘n draad klitser)
- 2 ml sout
- 10 ml bakpoeier
- 150 ml sagte bruin suiker
- 1 koppie fyn klapper, volgens smaak
- ½ koppie gemengde sade
- Smelt vir 1 minuut in die mikrogolf:
- 175 g botter
- Klits die volgende saam:
- 2 eiers
- 250 ml karringmelk (Ek gebruik 250ml melk met 1 eetlepel asyn in. Laat staan vir paar minute totdat dit verdik)
Klits gesmelte botter by eier en melk mengsel, asook ½ teelepel karamel essence.
Voeg droë bestanddele by eier en botter mengsel.
Meng goed tot glad en egalig.
Spuit ‘n 2 liter roomysbak met “spray and cook” of smeer met botter. Skep beslag in voorbereide roomysbak.
Bak beslag vir 12 minute op hoog in die mikrogolfoond op 100% krag en laat staan dan 10 minute in oond sonder om dit oop te maak. (Hierdie staantyd is baie belangrik)
Nota:
As ek hierdie in die aand bak, los ek die beskuit in die roomys bak en keer eers die volgende dag uit om op te sny.
Sny in skywe (10) en dan in vingers (5) Ek kry dus 50 vingers uit een baksel uit.
Droog beskuit in die gewone oond uit op 90ºC vir ongeveer 4 ure.
Terywl die eerste baksel in die mikrogolfoond staan en rus vir die 10 minute, maak ek solank die 2de baksel aan. Terwyl die 2de baksel staan, begin ek die skottelgoed. En voor jy weet is daar 3 baksels en die kombuis is skoon.
Ek het ook al beskuit in my klein ronde oondjie uit gedroog. Daar pas wel minder stukkies in teenoor die groot oond, maar die beskuit droog vinniger uit.
Weskus groete ❣️
Foto en resep: Gillian Bredenhann