MAKLIKE ROGBROOD
- 375 ml water
- 10 g kitsgis
- 10 ml molasse
- 10 ml sout
- 10 ml karwysaad
- 225 g (400 ml) donker rogmeel
- 225 g (400 ml) broodmeel
Plaas water, gis, molasse en sout in die bak van ’n elektriese menger. Meng met die K-spaan teen matige spoed tot goed gemeng. Voeg karwysaad, rogmeel en broodmeel by. Verhoog spoed en meng vir 10 – 12 minute of tot mengsel in een bal in die middel van die bak saamkom.
Plaas in skoon mengbak wat met olie gesmeer is. Bedek met kleefplastiek en laat op warm plek tot dubbel die volume rys.
Sif meel oor ’n broodmandjie. Keer deeg op werkvlak uit en doop hande in meel. Vorm deeg in ronde bal en sit in mandjie.
Laat rys in yskas tot dubbel die volume (6 – 8 uur).
Verhit oond tot 220°C.
Keer gerysde deeg uit op bakplaat wat met kleefwerende kossproei gespuit is.
Bak vir 30 – 35 minute of tot goudbruin en gaar.
Sit voor met botter.
Nota:
As jy nie ’n broodmandjie het nie, kan jy die deeg net so op ’n gesmeerde bakplaat laat rys. Sif net voor jy dit in die oond sit ’n bietjie meel oor.
Vir die spesifieke brood soos op die foto het ek ongebleikte rog sowel as broodmeel gebruik. Ek het ook nie die deeg in die yskas laat rys nie, maar soos normaalweg tot en met dubbel die grootte en dan gebak teen 180°C vir om en by 30-40min.
Ek het die karwysaad vervang met anyssaad, jy kan ook komynsaad gebruik sou jy wou, die geur wanneer die brood uit die oond kom is absoluut hemels! Die brood is heerlik op sy eie met botter asook saam met ‘n lekker heilsame bord sop.
Wenk:
Laat staan die brood vir so om en by 24 uur, die geure en smaak ontwikkel nog verder en is dit net nog lekkerder. Bak maar twee, dan kan jy een eet en een bêre.
Foto: Pieta van der Walt