Your Recipe Blog

LINDA SE ONFEILBARE PIZZA DEEG

Recipe by
Cook: 5 - 15 minutes | Servings: 1 pizza

LINDA SE ONFEILBARE PIZZA DEEG

Ons het lus gehad vir pizza vanaand. Vandag was weer ‘n besige dag waar ek ook aanlyn klasse moes doen, so pizza is ‘n maklike en vinnige ete en ek deel graag my raad oor hoe om ‘n lekker pizza deeg te maak, wat nie taai is nie maar tog “crispy” en sag.

  • 3 koppies koekmeel
  • 7.5 g sout
  • 1 koppie louwarm water
  • 10 ml suiker
  • 5 ml kitsgis
  • 15 ml kookolie
  • sous en vulsels van jou keuse

Sif die meel en sout saam in ‘n mengbak.
Voeg in ‘n aparte mengbak die water, suiker, gis en olie bymekaar, meng ligweg en wag totdat die gis begin aktiveer en lekker begin borrel. Dit neem so 3 minute.
Voeg ‘n koppie op ‘n slag van die meel by die louwarm gis mengsel en begin knie.
Knie totdat ‘n gladde deeg vorm en die deeg nie meer aan jou hande kleef nie.
Vorm ‘n bal, plaas terug in mengbak, bedek die deeg en laat dit rus in ‘n louwarm oond.
Wanneer die deeg tot dubbel die volume gerys het, is dit gereed om uit te rol.
Verdeel die deeg volgens die grootte wat jy verkies.
Ek het myne in ‘n oondpan vasgedruk.
Prik gaatjies in die deeg, bedek dit met ‘n klam doek en laat weer rys.
Verhit intussen jou oond op die warmste temperatuur (230ºC) wat dit kan gaan.
Plaas enige sous en vulsels van jou keuse op die deeg.
Plaas die pizza in die warm oond en bak vir ongeveer 5 – 15 minute afhangende van hoe dun jy die deeg gerol het.
Haal die pizza uit die oond en laat afkoel vir so 5 minute voordat jy dit opsny en geniet.

Belangrike wenke vir ‘n lekker pizza kors:
*Laat die gis eers ontwikkel voor jy die meel inmeng. Onthou, sout maak gis dood en suiker aktiveer die gis.
*Knie die deeg goed deur tot glad. Dit is belangrik dat die gluten moet werk. Dit is hoekom ek ‘n menger verkies met ‘n deeg haak.
*Laat die deeg vir lekker lank rys en rus. Hoe langer, hoe beter, want dan ontwikkel die gluten wat die kors sag en lekker maak.
*Moenie te veel vulsel en sous opsit nie. Ook nie te veel kaas nie. Dit maak dat jou deeg sag en “soggy” word. Wanneer jy ‘n ronde pizza maak, moet jy nie te veel sous of vulsel in die middel sit nie. Dit sal veroorsaak dat wanneer jy die gaar pizza sny, dit in die middel pap is en dit moeilik maak om te hanteer en meeste van die tyd gly alles af wanneer jy dit probeer optel.
*Los ‘n gedeelte van die rant van die deeg sonder sous, anders is die pizza geneig om “soggy” te word.
*Prik gaatjies of sny kepe vooraf in die deeg, sodat stoom makliker kan ontsnap wanneer dit bak.
*Stel jou oond tot op sy warmste. ‘n Alternatief is om die bakplate ook vooraf in die warm oond te plaas om ook vuurwarm te word voor jy die klaar gemaakte pizza met al die vulsels op, oorskuif op die warm plaat. (maak die pizza vooraf eenkant reg met al die vulsels, verwyder die warm bakplaat uit die oond en plaas of skuif die pizza versigtig op die warm plaat en plaas weer so gou moontlik terug in die warm oond).
*Moenie te lank laat bak nie. Wanneer die kors begin bruin word aan die buite rant, dan weet jy dit is gereed.
*Laat rus die pizza voor jy dit sny. Dit gee die vulsels tyd om te herstel van die partytjie in die oond.
Die belangrikste van alles is, om dit te geniet!!!
Lekker eet.

Resep en foto’s: Linda Greyling

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page