LEMOENVRUGTEBROOD
Ek het hierdie een al gebak. Dit kom uit ‘n Sarie 1979. Dit gebruik sultanas of dadels.
- 250 ml margarien
- 250 ml suiker
- 2 eiers
- 5 ml koeksoda
- 185 ml suurmelk
- 500 ml koekmeel
- sout
- 250 ml fyngesnyde dadels of sultanas
- 125 ml kersies, in kwarte gesny
- 200 ml gekapte okkerneute
- 25 ml gemengde skil
- 15 ml koekmeel
- Stroop:
- 250 ml lemoensap
- 220 ml suiker
- gerasperde skil van een lemoen
Voorverhit oond by 190°C.
Klop margarien en suiker tot lig en romerig en voeg eiers een vir een by en klop goed.
Voeg koeksoda by suurmelk en roer deeglik tot glad. Sif meel en sout saam en voeg afwisselend met die suurmelk by die margarienmengsel.
Meng dadels, kersies, okkerneute, skil en 15 ml koekmeel deeglik en vou in die beslag.
Skep in ‘n gesmeerde broodpannetjie of ‘n ringkoekpan.
Bak 60 minute by 190°C.
Skep die koue stroop oor die koek sodra dit uit die oond kom. Laat dit ‘n rukkie in die pan staan voor dit uitgekeer word.
Stroop:
Verhit alles tesame en kook 5 minute stadig. Laat heeltemal afkoel en plaas in die yskas om goed koud te word.
Resep : Huibré Müller