LAE KOOLHIDRATE BOEREKOS
“Wie sê boerekos kan nie keto/low carb of diabeties vriendelik wees nie…!Verseker nie ek nie.”
- Lamtjops:
- 3 – 4 lamboud- of skouertjops
- 150 ml water of bees- of hoenderekstrak
- 50 ml Worcestershiresous
- 3 teelepels braaivleis- of vleisspeserye
- Broccoli met kaassous:
- 1 koppie broccoli, in blommetjies gesny
- kookwater, om brokkoli halfpad te bedek
- 2 teelepels sout
- 100 g roomkaas
- 100 ml hoenderekstrak of water
- 125 ml room
- sout en witpeper, na smaak
- 125 ml gerasperde kaas
- Blomkoolrys:
- 500 g blomkoolrys
- 50 g botter
- sout en witpeper, na smaak
- Skorsie met kaneel:
- 1 skorsie, gehalveer
- 200 ml kookwater
- 2 teelepels kaneel
- 2 teelepels botter
- sout en witpeper, na smaak
- opsioneël: versoeter van jou keuse
Tjops:
Pak die tjops in ‘n oondbak (net groot genoeg vir die tjops). Strooi die res van die bestanddele bo-oor en bak bedek vir een uur by 180°C totdat die vleis sag is en daar ‘n lang sousie is (voeg nog water by as dit effens droog is).
Broccoli met kaassous:
Kook die broccoli in die water en sout vir agt minute tot dit net sag is. Dreineer die groente en hou dit eenkant. Verhit die roomkaas, ekstrak of water, room, sout en witpeper saam in ‘n pot en klits tot glad. Kook ‘n verdere vyf minute, en sprinkel dit dan bo-oor die brokkoli in ‘n klein oondbak. Sprinkel die kaas bo-oor en bak vir 30 minute saam met die tjops.
Blomkoolrys:
Plaas die blomkoolrys in ‘n mikrogolfoond en kook dit vir 15 minute. Voeg die botter, sout en witpeper by, en hou dit warm.
Skorsie met kaneel:
Kook die halwe skorsies vir 12 minute tot net sag. Skep die pitte uit, en vul die helftes met botter, kaneel, sout en witpeper. Hou dit warm. Skep alles op, gooi die lang vleissous oor die blomkoolrys en geniet.
Resep en foto: Ilze Jacobs