KWEPERJELLIE ALA MADZ
- kwepers
- 4 kg wit of bruin suiker
- 100 ml suurlemoensap
Sny die kwepers wat jy tot jou beskikking het op in stukke. Skil en pit en al.
Sit dit in ‘n dikboom kastrol en bedek met water. Kook die vrugte tot sag.
Daarna skep die pulp in ‘n groentesif en druk effe sodat al die sap kan dreineer.
Moet nie te veel druk nie, want die jellie sal nie helder wees nie.
Hou die pulp eenkant( mens kan kweper lekkers daarmee maak).
Dreineer al die sap deur ‘n kaasdoek.
Ek het die sap tot my beskikking afgemeet. Daar was 6 liter sap.
Weeg 4 kg bruin of wit suiker wat jy het af en voeg by die sap in die kastrol.
Bring stadig tot kook en roer totdat suiker opgelos is voor dit kook.
Ek wou nie 6 kg gebruik nie ( maw. 1:1 nie) want die vorige jaar se jellie het gesandsuiker as dit ‘n rukkie oop staan.
Hierdie keer eksperimenteer ek met minder suiker. Dan voel dit amper gesonder.
Voeg by 100 ml suurlemoensap veral as dit te ryp vrugte is en om te verhoed dat dit sandsuiker.
Jy kan die sap van vars suurlemoen ook gebruik tot by 100 ml. Proe aan jou afgekookte sap dit moet suur proe.
Jy kan selfs die skille van die uitgedrukte suurlemoene saam met die pulp kook en saam dreineer.
Die aanbevole temperatuur is 105 °C volgens Google.
Dit is nogals ‘n tydrowende proses so trek maar ‘n stoeltjie nader en maak jou kalender skoon vir die dag en sê vir Pa hy kook vanaand.
Hou jou kookproses met ‘n valk oog dop. Dit kan opborrel en oorkook of dit kan aanbrand so roer af en toe.
Om te toets kan jy ‘n teelepel vol op ‘n piering skep en dit koud roer, dit behoort dan jellierig te word. Daar is ander metodes ook bv ‘n druppel in ‘n glas koue water wat moet afsak en stol en nie oplos nie. Dit sal afhang van die natuurlike pektien wat in die vrugte is. Daarom moet nie net ryp vrugte gebruik nie.
Moet dit nie te lank kook nie dit sal ‘n brandsmaak kry en baie donker word asook baie baie styf word. Dan is dit nie baie lekker nie.
Tydens die kook proses sal daar skuim vorm teen die kante van die pot jy kan dit afskep as dit te veel is en nie wil wegkook nie.
As jou jellietoets werk skep die jellie in gesteriliseerde bottels met blik dekseltjies. Seël dadelik.
Maak seker jou dekseltjies se rubberlaag is nie beskadig nie.
Jy kry deesdae by die kruidenierswinkels los deksels te koop.
As die jellie afkoel sal die deksels induik dan weet jy dis goed geseël.
Geniet jou kooktyd.
Groete Madz Hondeklipbaai.
Foto en Resep: Madeleine Baugmarten
Category: